Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kunstalent maak hom ’n ster
Cohnwille kunstenaar


Die 19-jarige Cohnwille Swarts het oornag ’n sensasie geword nadat sy kunsjuffrou sy besonderse kunswerke op sosiale media gedeel het.

Die graad 12-leerder van Schoonspruit Sekondêr het in graad 3 ontdek dat hy ’n talent vir teken het. Met die jare het hy nuwe tegnieke aangeleer en goed begin teken.

In graad 8 het hy sy hoërskoolloopbaan by Schoonspruit begin en visuele kuns as vak geneem.

“In graad 10 het ek begin spesialiseer in die vak en in graad 11 my eerste visuele kunsdiploma deur die skool gekry. Dit het my net gemotiveer om hierdie jaar meer in te sit.”

Cohnwille sê vir hom is teken ’n manier om uiting aan sy emosies en gevoelens te gee.

Die inspirasie vir sy sketse kom van sy eie omgewing, huislike omstandighede en vandag se samelewing waar mense in erge armoede leef.

Dit is ’n kombinasie van foto’s wat hy aanlyn sien en wat hy self in die gemeenskap ervaar. Meeste van sy kunswerke se fokus is om die emosies van hierdie mense wat in uiterse armoede leef uit te beeld.

“Ek kyk na die armoedige kant van die samelewing en die soort emosie en hartseer van mense daar buite wat swaarkry.”

Cohnwille, wat sy eie hartseer ervaar met die onlangse afsterwe van sy moeder, sê hy wou amper opgee, maar het nuwe krag gevind om iets van sy lewe te maak.

“Die tyd toe ek my moeder verloor het, het dit vir my gevoel of ek alles verloor het en niemand gehad het om op staat te maak nie. Maar ek het besef ek moet aangaan, hard werk en leer sodat ek goed kan presteer.

Ek wil verder gaan studeer en sukses met my kuns behaal. Ek wil hê ander mense moet my kuns sien.”

Talle van Cohnwille se sketse, wat deel was van sy praktiese opdragte vir visuele kuns, het reeds die oë van talle mense gevang, onder andere buitelanders wat sy kunswerke raakgesien het nadat sy onderwyseres, Celeste Arendse dit aanlyn op Facebook gedeel het. Oor die aandag wat hy sedertdien geniet het, sê hy, “Ek was baie opgewonde, ek het nie verwag dit sal soveel opslae maak nie. Dit het my weer eens laat besef dat harde werk vir my goeie resultate sal bring.”

Hy is ook vol lof vir sy kunsjuffrou wat in hom geglo het.

“Dit beteken baie vir my. Sy het my baie gemotiveer om my werk klaar te maak.”

Maar sy erken sy is streng met haar leerders. “Ek is maar soms hard op hulle, maar dit is juis omdat ek die beste uit hulle wil kry.”

Oor Cohnwille sê sy: “Ek ken hom al vir vyf jaar, maar toe hy in graad 10 in visuele kuns begin spesialiseer het, het ek meer met hom te doen gekry. In graad 10 en 11 het hy bietjie lyf weggesteek,” erken sy en loer dan na Cohnwille wat ’n skaam glimlaggie gee, “maar in graad 12 is dit asof hy vyf vlakke oorgeslaan het en net begin produseer het volgens sy talent. Jy kry die soort kind wat jy baie aan die hand moet vat, maar Cohnwille is ’n kind wat jy maar kan los. Hy is ’n vlak bo die ander kinders in die klas.”

Haar droom vir hom is dat hy suksesvol moet wees.

“Mense wat in die buiteland woon, het al navrae gedoen om sy kunswerke te koop en borgskappe aangebied. Ek wil hê hy moet kontinuïteit hê, nie net ’n oornagsensasie nie, maar dat mense sal weet van hom en sy loopbaan sal volg. Dit is ’n geleentheid om hom uit sy omstandighede te haal.”

Arendse sê hoewel daar reeds aanbiedinge was, gaan hulle nie nou al sy werke verkoop nie omdat dit nog deel is van sy praktiese punt vir die eksamen en hulle toegang tot die werk moet hê. Hulle gaan wel die werke in plaaslike galerye in die Swartland begin uitstal vir blootstelling.

Enigiemand wat meer wil weet oor die kunswerke, ’n uitstalling wil reël of vir Cohnwille wil borg om sy studies in visuele kuns voort te sit, kan Arendse by 074 889 1958 bel of ’n e-pos stuur na pret.celeste@yahoo.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.