Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kunstenaar met omgeehart sterf

’n Bekende en geliefde inwoner van Caledon het gesterf.

Gildford Swart, of oom Gielie, soos hy bekendgestaan het, is Sondag 22 Desember in die ouderdom van 86 oorlede.

Oom Gielie, ’n boorling van Caledon, het sy hele lewe in Caledon gewoon en gewerk. Hiér het hy sy vrou Enid, ook ’n boorling van Caledon, ontmoet toe sy maar 16 jaar oud was en drie jaar later het hulle getrou. Hulle was vir amper 60 jaar baie gelukkig getroud.

Op 14-jarige ouderdom, ná hy gr.8 geslaag het, het oom Gielie die skool verlaat. Hy is wel ’n aantal jare later weer terug skool toe, maar dié keer om as opsigter by Swartberg Sekondêr te werk – ’n pos wat hy vir 33 jaar beklee het.

Skilder was een van die groot liefdes in oom Gielie se lewe. Hy het op 11-jarige ouderdom begin teken en met waterverf begin skilder. Hy het nooit enige kunsonderrig ontvang nie, maar het wel ná werk baie ure in die skool­biblioteek deurgebring om deur kunsboeke te blaai.

Sy vrou Enid sê: “Hy was gifted. Die Here het vir hom daardie gawe gegee”.

Volgens haar was Overberg-landskappe, bergtonele en veral seetonele van Arniston van sy gunstelingonderwerpe. Hy het nie portrette of blomme geskilder nie, maar het wel vir baie jare die agtergrondpanele vir die gewilde Caledon-veldblommeskou geskilder.

In 1982 het hy die geleent­heid gekry om ’n uitstalling in die Caledon-stadsaal te hou. Van die 46 skilderye wat uitgestal is, het slegs twee teruggekom huis toe en dié is binne dae opgeraap.

Oom Gielie se skilderye hang in baie huise van Caledon en selfs oorsee. In sy eie huis is daar egter net twee van sy skilderye en een klein onvol­tooide werk. Hy het tot twee jaar voor sy dood nog geskilder.

Op ’n vraag van die Gazette oor waarom daar so min van sy werke in hul huis hang, antwoord tannie Enid dat mense letterlik die skilderye van hulle mure gekoop het.

Oom Gielie was ’n sagte omgeemens wat sy gemeenskap gerespekteer het en wat op sy beurt weer deur die gemeen­skap gerespekteer is. Hy het gehelp waar hy kan en die woord “nee” het hy nie geken nie. Soveel so dat sy vrou eendag vir hom gesê het: “Ek gaan jou nie meer op jou naam noem nie. Van nou af is jy Mister Ja.”

Tuinmaak was ook een van sy groot liefdes en hy het prag­tige asters en dalia’s gekweek.

“Die eerste blomme, oftewel First Fruits, is altyd aan die kerk geskenk – aan die Anglikaanse kerk waar hy gedoop is, aangeneem is, getrou het en van waar hy nou uit begrawe is,” vertel tannie Enid.

. Oom Gielie word oorleef deur sy vrou Enid, vier kinders, agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.