Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lady Anne is die Darling van Veritas

Darling Cellars is een van die topvyf-presteerders by die Veritas-toekennings.

Darling Cellars, die bekende wynkelder in Suid-Afrika se koel, groen wynstreek langs die Weskus, is tans besig om ’n nuwe era van gehalte te bereik. Een teken hiervan was sy fenomenale prestasie in vanjaar se Veritas-kompetisie, Suid-Afrika se voorste wynskou. Darling het met twee dubbelgoue en drie goue medaljes en ’n plek onder die topvyf beste presteerders in vanjaar se kompetisie losgeslaan.

Die dubbelgoud-pronkstukke, waarvan slegs 39 aan wynprodusente uitgedeel is, is deur Darling se Lady Ann Darling 2017, ’n witwynversnit van sauvignon blanc en sémillon, asook vir die kelder se Gustus Chenin Blanc 2018 toegeken. Goue medaljes is uitgeloof aan die Arum Fields Chenin Blanc 2018, Lime Kilns 2017 (versnit van chenin blanc, chardonnay en viognier) en die spoggerige rooiwyn Sir Charles Darling 2016 waarin cabernet sauvignon die botoon voer, aangevul met merlot.

Volgens Pieter-Niel Rossouw, Darling Cellars’ se keldermeester, is hy en sy span behoorlik verheug met die groot eer. “Ons weet hoe belangrik Veritas is – nie net vir ons om ons wyngehalte te meet teenoor dié van ander produsente nie, maar ook omdat dit oor en oor bewys dat die wynverbruiker daardie Veritas-etiket as bewys van gehalte beskou.”

Drie van die bekroonde Darling-wyne is te vind in die kelder se nuwe Erfenis-reeks, naamlik die Lady Ann Darling, Sir Charles Darling en die Lime Kilns. Die Gustus Chenin Blanc is nóg ’n nuwe wyn, wat bewys dat Darling Cellars net soveel aan die kant van vernuwing woeker as wat dit met sy toegewyde wingerdverbouing en wynmaak die geval is.

Die geskiedenis van Darling Cellars strek terug tot 1948 en sy wyne is veral bekend daarvoor dat hulle die karakter van die streek weerspieël. Die terroir word gekenmerk deur ’n verskeidenheid grondsoorte, en die nabyliggende Atlantiese Oseaan het ’n merkbare invloed op die wingerde. Die meeste van die wingerde is droëland, wat klein, gekonsentreerde korrels oplewer wat tot besonder geurige wyne lei.

Rossouw meen spanwerk tussen die druiweprodusente en die wynmaakspan dra die sleutel tot Darling se sukses.

“Ons druiweboere speel ’n integrale rol in die kelder se wynproduksie en hulle is deel van die span,” sê hy. “Elke boer weet vir watter wyn sy druiwe gebruik gaan word en proe saam met ons die wyne sodat die eindproduk ’n spanpoging is en ’n gedeelde visie verteenwoordig. En dis wat ons klante in die glas proe: Die Darling streek, druiwe en wyn wat alles naatloos saamvat en ons uniekheid in ’n glas pure wyngenot kan weerspieël.”

Rossouw en sy span is in hul noppies met die prestasie, veral die twee dubbelgoud-wenners.

“Ons koel terroir het van Darling ’n bekende streek vir sauvignon blanc gemaak. Maar die Lady Ann Darling, een van die dubbelgoud-wenners, het ’n ander aspek van Darling laat deurskemer met ’n 50-50-versnit van sauvignon blanc en sémillon,” sê hy.

“Gehout en klassiek – hierdie is ’n pronk-witwyn waarop ons behoorlik trots is. Hy gesels saam met Suid-Afrika se groot wit wyne.” Darling se Gustus Chenin Blanc 2018 het behoorlik die verbeelding aangegryp, aangesien dit die enigste ongehoute Chenin Blanc was wat dubbelgoud gewen het.

“Ons wou ’n ongehoute Chenin Blanc maak met die struktuur en kompleksiteit van ’n gehoute wyn, maar met daardie fris, varsheid wat goeie Chenin Blanc ’n mens gee,” sê Rossouw. “Dit was vir ons ’n besonderse vervullende projek en ons is verheug dit het vrugte afgewerp – en sommer dubbelgoud ook!”

Lesers wat hierdie vakansie die gasvryheid en uitstekende wyne van Darling wil ervaar, moet onthou dat die hele reeks wyne te proe en te koop is by Darling Cellars se proelokaal net buite die pragtige dorpie met dieselfde naam. Ligte maaltye sal ook bedien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.