Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Laingsburg-boer gereed vir liefde

kykNET se gewilde werklikheids­reeks, Boer Soek ’n Vrou, het Sondag 19 Julie die nuutste sei­soen se top10-boere aan die land bekendgestel en ’n plaaslike boer van Laingsburg is een van die hoopvolle deelnemers.

Pieter Francois Theron (30), oftewel PF soos meeste hom ken, is ’n Laingsburger in murg en been.

Hy is die derde generasie op sy plaas buite die dorp nadat sy oupa die boerdery in 1938 begin het.

“Ek het my laerskool- en hoër­skoolloopbaan in Laingsburg aange­pak waarna ek later aan Hoër Land­bouskool Boland in die Paarl gematri­kuleer het. Ná skool was ek vir ses jaar by Universiteit Stellenbosch waar ek siviele ingenieurswese gestu­deer het,” vertel hy aan Gazette.

Dit was egter die boerdery en die omgewing waarin PF grootgeword het, wat hom terug plaas toe geneem het. Hy is ook die voorsitter van die plaaslike landbouvereniging en is ’n streeksverteenwoordiger op die streeksraad.

“Laingsburg is die poort tot die Karoo en ons distrik het ’n verskei­denheid klimate waar met vee, vrugte en groentesaad geboer kan word. Ons is een van die min dorpe waar die N1 deur die dorp loop, wat natuurlik ’n groot rol in ons ekonomie speel. Ons het ook die bekende Tannie Poppie met haar roosterbrood in ons dorp en staan grootliks bekend vir die vloed van 1981. Wat die belangrikste is, is beslis Laingsburg se mense – wat ’n hegte plattelandse gemeenskap is waar goeie vriendskapsbande gesmee word en ons vir mekaar omgee. Ons is trots op ons dorp.”

kykNET was bekommerd oor hierdie jaar se reeks aangesien Boer Soek ’n Vrou dié kanaal se gewildste program is en daar kommer was rakende die Covid-19-pandemie.

“2020 is ’n jaar wat ons nie maklik sal vergeet nie, ’n jaar van inperking en afsondering, ’n jaar waar ons die waarde van vriendskappe en liefde meer as ooit besef en verstaan. Niemand is gemaak om alleen te wees nie, So, ons nooi almal om vir die boere te skryf. Soos alles anders, mag dinge dalk vanjaar effens anders lyk op Boer Soek ’n Vrou. Wat wel 100% dieselfde bly, is ons 10 onge­trou­de, energieke en ondernemende boere wat dapper genoeg was om dié jaar in te skryf. Kyk of een van hulle dalk jou oog vang. As die stilte en die natuur­skoon van ’n plaas jou roep, as jy graag ’n boer aan jou sy wil hê, is hierdie dalk net die geleentheid vir jou,” vertel Wilmar Muller van kykNET aan Gazette.

PF het juis ingeskryf omdat hy voel hy nou gereed is om ’n kans op liefde te waag.

“Ek wou nooit vroeg trou nie en wou eers fokus op my professionele lewe en al my sake agtermekaar kry. Ek dink ook ’n mens leer jouself beter ken soos jy ouer word. ’n Mens weet nie wat jy in iemand anders soek voor jy nie jouself beter ken nie. Ek is nou in die stadium van my lewe waar ek op my persoonlike lewe wil begin fokus en om die groot stap te neem om iemand te vind om ’n lewe saam mee te begin. Ek woon in die platteland waar die geleentheid om só ’n persoon raak te loop, baie skaars is. My beste geleentheid is, Boer Soek ’n Vrou,” vertel PF aan Gazette.

PF wil nes al die 10 ander boere iemand spesiaal ontmoet. Hy sê hy sien uit na die vriendskappe wat gevorm gaan word en om vir homself te lag as hy op televisie verskyn aangesien die hele verfilmingsproses nuut vir hom is en iets is waaraan hy nie gewoon­lik blootgestel sou word nie.

. Boer Soek ’n Vrou sal bestaan uit 13 episodes van ’n uur lank. Inskry­wings kan gedoen word via kykNET se webtuiste by www.kyknet.co.za en op die Boer Soek ’n Vrou-Facebook-blad. Inskrywings sluit op 8 Augustus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.