Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leer by die Italianers . . .

Suid-Afrikaanse wynprodusente het die nuutste Italiaanse wingerdteg­nologie 2 Oktober by Vinpro eerstehands ervaar.

Dít was deel van ’n drie dae lange Fieragricola-tentoonstelling in die Kaapse wynlande.

Sowat 100 wingerdkundiges, wyndruifprodusente en belangheb­bendes het na Vinpro se hoofkantoor in die Paarl saamgetrek om die 12 Italiaanse maatskappye se gespesialiseerde toerusting, stelsels en produkte vir wingerdverbouing te besigtig.

Die afgevaardigdes het hul besoek 3 en 4 Oktober na die Swart­land- en Worcester-streek uitgebrei.

“Een van die pilare van die Gen-Z-wingerdprojek is om Suid-Afrikaanse produsente aan die nuutste tegnologie bloot te stel,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z-wingerdprojek. “Ons het die geleentheid aangegryp toe die organiseerders Veronafiere en sy plaaslike agent, adv. Glenn Babb, ons genader het om ’n gesamentlike praktiese demonstrasie van masjinerie en ander landboupro­dukte deur gevestigde en voornemende Italiaanse maatskappye aan te bied.”

Dr. Albert Strever van Universiteit Stellenbosch meen landboutegnologie is uiters belangrik vir ’n innoverende toekoms.

Alhoewel tegnologie abstrak is, is die toepassing daarvan belangrik.

“Ek het baie tegnologieë getoets en waargeneem, maar die ware toets lê in die praktiese aanwending daarvan. Vandag was ons bevoorreg om te sien of dit sal werk en die toets van tyd sal kan deurstaan.”

“Die oordrag van tegnologie en innovasie is belangrik vir die bedryf, asook die ontwikkeling van vennootskappe om ’n volhoubare wynbedryf te skep,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Die nuwe vennootskap tussen Italië en Suid-Afrika is ’n eerste stap om oplossings te vind, uitdagings te deel en om ons produsente se hande in die toekoms te versterk.”

Emanuele Pollio van die Italiaanse konsulaat in Kaapstad sê Italië speel ’n toonaangewende rol in landboumasji­nerie vir wyndruifverbouing. Alhoewel dit hul eerste handelsmissie na die Wes-Kaap is, is daar potensiaal om sakevennootskappe verder uit te brei. “Dis ’n mylpaal wat vennootskappe in die bedryf kan help vestig.”

GianPoalo Pedretti, Veronafiere se sake-ontwikkelingsbestuurder, sê die Wes-Kaap was die perfekte plek om Italiaanse wingerdboutegnologie ten toon te stel.

“Maatskappye het hul toerusting bekendgestel en kopers kon verskeie demonstrasies van masjinerie en tegnologie in die wingerde besigtig. Vinpro, WineLand Media en die Italiaanse konsulaat was ideale vennote vir hierdie inisiatief.”

Die 12 Italiaanse maatskappye wat hul tegnologie ten toon gestel het, is onder meer Argo Tractors-Landini, Agrimaster-Demetra, Bgroup, Carraro Agritalia, Celli, Dondi, Grena, Ideal, La Cruz, Orizzonti, Polimetal, Vignetinox.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.