Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leerders vaar goed in navorsing

Graad R-leerders wie se moedertaal nie Engels is nie, vaar net so goed soos nneer dit kom by die stoor en verwerking van klein hoeveelhede inligting wat nodig is vir onder meer leer, probleemoplossing en berekeninge.

Dít is volgens dr. Michelle White, ’n deeltydse dosent by die departement algemene taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Wat hulle wel kniehalter, is hul gebrek aan Engelse vaardighede, maar ’n paar ekstra lesse behoort hul Engelse taalont­wikkeling sowel as hul akademiese prestasie te verbeter, meen White.

“Net die nodige Engelse vaardighede ontbreek by hierdie kinders om akade­mies goed te kan vaar, want hul werken­de geheue of korttermyn-geheuevaardig­hede om inligting wat gou verwerk kan word, te behou, is op dieselfde vlak as hul maatjies s’n,” verduidelik White.

White wou uitvind wat die kognitiewe en taalkundige ontwikkeling van ’n tipiese graad R-leerder behels wat besig is om Engels aan te leer deur middel van Engelse onderrig – die voorkeur-onder­rig- en leertaal in baie van ons skole.

“Talle Suid-Afrikaanse kinders leer in Engels hoewel hulle nie eintlik Engels magtig is wanneer hulle begin skoolgaan nie. Hulle word dus in ’n taal onderrig wat vir hulle heeltemal vreemd is.”

As deel van haar studie, het White die ontwikkeling van graad R-leerders se Engelse taalvaardighede en die kognitie­we prosesse onderliggend hieraan in ’n multikulturele klaskamer in ’n Engels-medium skool ondersoek.

Altesaam 34 graad R-leerders het aan die studie deelgeneem. Een groep se huistaal was Engels, terwyl die ander groep nege verskillende huistale gehad het. Hierdie leerders is drie keer oor die verloop van een skooljaar getoets met behulp van ’n volledige Engelse taal­assessering, ’n Engelse woordeskattoets en vier werkende geheue-toetse.

“Die werkende geheue-toetse was veral deurslaggewend omdat hierdie deel van ons korttermyngeheue nie net in ons alledaagse lewe baie belangrik is nie, maar ook ’n sleutel-kognitiewe proses is wat grondliggend vir die aanleer van taal en skoolprestasie in onder meer wiskunde en lees is,” sê White.

Volgens White moes die leerders opdragte uitvoer wat van hulle verwag het om blokvolgordes te onthou. Ander opdragte was om die plasing van sekere vorme uit te ken en te onthou en om opgemaakte woorde te herhaal.

Bykomend tot die taalassesserings en toetse, het White ook onderhoude met die leerders se ouers gevoer om meer oor hul taalgewoontes tuis uit te vind.

“My studie toon dat leerders met Engels as huistaal deur die loop van die jaar omtrent dieselfde in die werkende geheue-toetse gevaar het as hul tweede­taal-maats. Dit beteken dat hul werkende geheue-vermoë onafhanklik is van hoeveel hulle van Engels weet.

“Soos verwag het die Engelse kinders deurlopend deur die hele jaar beter as hul maats in alle taalmetings gevaar. Hulle het ’n groter woordeskat gehad en hul begrip en gebruik was ook beter.”

White wys egter daarop dat die patroon waarop groepe se Engelse en werkende geheuevaardighede deur die jaar ontwikkel het, dieselfde was.

Volgens White het die bestudering van die werkende geheue vir hulle waarde­volle insig gebied aangesien dit blykbaar nie deur die hoeveelheid kennis wat ’n kind het beïnvloed word nie. Sy meen ons moet daarom ag slaan op ’n kind wie se werkende geheue-tellings laag is.

“Noudat ons weet dat kognitiewe en taalontwikkeling se baan in albei groepe dieselfde lyk, kan ons vasstel of hulle sonder die teenwoordigheid van ’n leerafwyking ontwikkel.

“Ons behoort ook hierdie kinders te toets indien hulle akademies agter raak om die moontlikheid van ’n leer- of taalafwyking uit te skakel.”

Gegewe hoe belangrik vroeë ingryping vir akademiese sukses is, is dit belangrik dat graad R-leerders wat nie Engels tuis praat nie, meer aan die taal by die skool blootgestel word, meen sy. – Alec Basson, senior wetenskap­skry­wer vir die Universiteit Stellenbosch

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.