Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Legendariese wyn- en sportman vereer

Die legendariese Stellenbosse wyn- en sportpersoonlikheid, Jan Boland Coetzee, is Donderdag 6 Februarie met die ikoniese 1659-erepenning by die jaarlikse Wynoesherdenkings­geleentheid vereer.

Dié geleentheid het op die geskiedkundige Groot Constantia-wynlandgoed in Kaapstad plaasgevind.

Coetzee, ’n oudleerder van Hoërskool Swartland, wat in Porterville gebore is en in Lambertsbaai aan die Weskus grootgeword het voor hy ’n graad in wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, se roemryke wynmaakloopbaan het in 1968 by die Kanonkop-wynplaas buite Stellenbosch begin. Dié wynmaker het terselfdertyd ook bekendheid verwerf op die rugbyveld – nie net het hy die Westelike Provinsie vir 127 wedstryde verteenwoordig nie, maar ook ses keer as Springbok uitgedraf.

Coetzee is nie net bekend vir sy kundigheid van wingerd en wyn nie, maar sy reputasie vir die opheffing van landbouwerkers, asook die wynlandgemeenskappe loop hom vooruit. As deel van sy pioniersrol op die gebied van maatskaplike opheffing was hy in die jare sewentig een van die stigterslede van die Landelike Stigting, ’n baanbrekerorganisasie wat daarna streef om die woon- en werk­omgewing van plaaslike mense te verbeter. Hy was een van die stigters­lede van die Kaapse Wynmakersgilde en is ’n voormalige trustee van dié gilde se ontwikkelingstrust wat veral deur sy protégé-program terugploeg in die gemeenskap.

In 1980 het Coetzee die plaas Vriesenhof teen die hange van Stellenboschberg bekom waar hy homself steeds bevind. Wanneer hy nie wyn maak nie, geniet hy dit om te jag, in die Weskus saam met sy kleinkinders te gaan visvang of om saam met vriende oor ’n glasie wyn te kuier. ‘n Eredoktorsgraad in die natuurwetenskappe in landbou is in 2018 deur die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken.

Volgens dr. Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia, word die 1659-erepenning reeds sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Met vanjaar se prys wil Groot Constantia se direksie sy verbintenis herbevestig tot die verdere herstel van menswaar­digheid, uitbou van trots in die wynbedryf en beste praktyk aanmoedig.

“Die 1659-erepenning vir visionêre leierskap in die bedryf is ingestel om positiewe bydraes te erken en te vereer,” sê dr. Messina.

“Vanjaar se leier is juis só ’n persoon. Jan Boland Coetzee lewer ’n konstruktiewe bydrae om die wynbedryf op ’n hoër vlak te plaas. Die bedryf is beslis beter daar­aan toe met sy visie en betrokkenheid. Sy tasbare optrede om groter mens­waar­digheid, trots en eer aan die bedryf en al haar mense te verleen, is onmiskenbaar. Hy het mense se lewens diep geraak en spore getrap wat moeilik uitwisbaar is. Ons glo sy bydrae sal ander inspireer om sy voorbeeld te volg.”

Coetzee het in sy toespraak gesê die wêreld se beste wyne is ten nouste verbind met die gees van die plek, die plante en die persone wat dit produ­seer . . . veral “mense met geduld, passie, noukeurigheid en ’n vreugde om te deel”.

Hy het afgesluit om te sê: “Daar is geen hysbak na sukses nie, jy moet die trappe neem.” . Gaste het ’n fynproewersete deur Simon’s Restaurant geniet wat bedien is voor die historiese Cloete-kelder, tesame met bekroonde Groot Constantia-wyne en wêreldklasvermaak verskaf deur lede van die Libertaskoor. Die Wynoesherdenkingsgeleentheid word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Groot Constantia-landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.