Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lewenslustige Lisa te ruste gelê

Die 20-jarige Lisa-Marie Beyers van Robertson, wat altyd ’n glimlag op haar gesig gehad, die lewe waaghalsig met durf aangepak en in 2018 ’n dubbele longoorplanting ondergaan het, is oorlede.

Lisa, wat haar 21ste verjaarsdag Saterdag 6 Maart sou vier, het verlede Maandag (22 Februarie) omstreeks 16:30 in haar ouerhuis gesterf.

“Lisa het longverwerping gehad en het gewag vir ’n tweede stel longe. Sy was sedert die einde van verlede jaar op die oorplantingslys, maar ongelukkig was ’n geskikte skenkersorgaan nie betyds beskikbaar nie. Sy het die laaste week baie swaar gekry en was op suurstof en bedlêend. Sy het versorging nodig gehad. Lisa is aan asemnood oorlede,” het haar ma, Lana, aan Gazette gesê.

Sistiese fibrose is op twee by Lisa gediagnoseer en sy moes haar lewe lank baklei om bo haar siekte en die omstandighede om dit uit te styg.

Dit is ’n oorerflike siekte wat ernstige skade aan die longe, spysverteringstelsel en ander organe veroorsaak. Dit beïnvloed die selle wat slym, sweet en verteringsappe produseer en kniehalter die asemhaling­stelsel en ander liggaams­funksies.

Lisa was in Robertson op skool en het verlede jaar in ’n onderhoud vertel dat haar skooljare ’n riller was, maar dat sy nooit moed opgegee het nie.

Lisa het nog altyd ’n groot passie en liefde vir sport gehad en het so ver as moont­lik aan alle sportsoorte deelgeneem – en uitgeblink.

Dokters het Lisa in 2018 meegedeel dat sy dringend ’n dub­bele longoorplanting moet ondergaan. Sy was gelukkig en was slegs ’n paar weke op die waglys toe haar dokter sê hulle het die twee longe vir haar gekry. Lisa en haar ouers het hulle na die Groote Schuur-hospitaal gehaas, waarna sy dadelik teater toe is en sowat ses uur daarna eers uitgekom het. Haar herstelpad was egter baie uniek. Gewoonlik moet iemand wat só ’n oorplanting ondergaan, sowat drie dae onder verdowing lê en dan ’n intensiewe herstelprogram aanpak, maar so bietjie meer as ’n maand ná haar operasie het sy haar eerste Parkrun voltooi ter bewus­making van orgaanskenking. Daarna het sy besluit om haar eie skoonheidsalon, Innerlike Skoonheid, te open en te poog om ander goed oor hulself te laat voel. Sy was, soos baie mense verduidelik, “saggeaard, maar sterk, en het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad”. Talle mense van reg oor Suid-Afrika en selfs die buiteland het Lisa se storie op sosiale media en danksy verskeie berigte wat oor haar geskryf is, gevolg. Bekendes soos Steve Hofmeyr, Burre Burger, Germandt Geldenhuys en Karlien Husselman het Lisa die afgelope paar maande ondersteun en haar inspirerende storie met talle gedeel.

Ná die nuus oor haar afsterwe was die reaksie groot. “Totsiens, lieflike kind. Jy was tot op jou laaste ’n groot inspirasie vir almal hier. Ek het jou nie so goed geken nie, maar het jou pyn soos ’n pa probeer aanvoel. En dit was bitter seer. Ons gedagtes en gebede is by die gesin, familie en vriende van Lisa-Marie,” het Steve Hofmeyr aan sy 600 000 volgelinge op sosiale media geskryf.

Lisa se sosialemediaprofiele het omtrent ontplof met helderkleurige foto’s, herinneringe en staaltjies hoe sy ander inspireer het. Dit was duidelik hoe lief baie vir haar was.

Haar kêrel, Zach Verster, het ’n huldeblyk op Facebook geskryf: “Dankie vir alles wat jy vir my beteken het, my lief; alles wat ons saam kon doen en alles wat ons by mekaar geleer het. Jy sal gemis word, maar nooit vergeet word nie. Ek glo jy sal elke dag ook na my kyk van daar bo af. Ek sal jou liefhê tot die einde van alles. Forever and always my engel.”

Lisa se ouers het laat weet hulle is dankbaar vir al die ondersteuning in hierdie moeilike tyd. “Sy het altyd ’n wil van haar eie gehad en haar wens om by die huis te wees tydens haar afsterwe, het waar geword. Ons kan nie deur hierdie tyd kom sonder die ongelooflike ondersteuning van ons vriende en familie nie. Ons is dankbaar. Sy sal gemis word.”

’n Emosionele Pieter, Lisa se pa, het aan Gazette gesê haar oë was vol lewe en sy het baie se hart aangeraak. “Ek sal haar mis. Sy was die beste dogter vir wie enigiemand kon vra.”

Haar begrafnis is Saterdag (27 Februarie) gehou tydens ’n private diens op ’n familieplaas buite Robertson. Talle het dit via YouTube gevolg en bekendes soos Steve Hofmeyr het ook dié verrigtinge bygewoon.

Die Just Breath – Lisa-Marie Beyers-Facebookblad sal voortaan gebruik word om bewusmaking rakende orgaanskenking en soortgelyke kwessies wat Lisa na aan die hart gelê het, te bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.