Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Liefdadigheidswinkel maak in McGregor oop

Die bekende gospelsangeres Lizette Janse van Rensburg en haar man, Jaco, het op 1 Julie hul droom, om die gemeenskap van McGregor te help en ondersteun, verwesenlik.

Lizette en Jaco het Care2Share- liefdadigheidswinkel amptelik geopen en hoop om talle in dié gebied te kan help.

Dié egpaar, wat deel van ’n bediening in Robertson is en gereeld op toer is met hul gospelmusiek en boodskap van hoop, het 20 jaar gelede vanaf Kaapstad na McGregor verhuis nadat hulle ’n kind aan die dood af­gestaan het. Intussen het die paartjie ook vir ’n wyle in die Weskus gebly en het hul huis in McGregor opgegee om die Woord van die Here oor Suid-Afrika en selfs in Namibië te verkondig.

“Ons het besluit om na hierdie gemeenskap terug te trek nadat ons verneem het die huis waarin ons eers hier in McGregor gebly het weer beskikbaar is. Ons het dadelik die geleentheid aangegryp en is sedert November verlede jaar hier,” vertel hulle.

Hulle was nog al die jare deel van verskeie gemeenskapsprojekte en het deur middel van Lizette se sangloop­baan met baie mense in aanraking gekom wat ook dieselfde passie en liefde deel.

“Ons was een aand by ’n spesiale lofprysingsdiens waar Jaco Strydom ’n boodskap gelewer het. Die tema was ‘care to share’ en dit het by ons gebly. Ons het geweet ons wil iets doen waar ons kan teruggee aan die gemeenskap en veral aan dié wat in nood verkeer.”

Hulle het besluit om ’n liefdadig­heidswinkel in Mcgregor se hoof­straat oop te maak en artikels te versamel wat mense nie meer gebruik nie. Behoeftiges kan dan by hulle aanklop en mense kan ook van die artikels koop. Dié geld gaan dan gebruik word om dié in nood op ’n ander manier te kan help.

“Ons gaan ’n rooi posbus buite opsit waar behoeftiges hul versoeke en vrae vir ons kan laat. Ons kan deur dit werk en besluit hoe ons elkeen kan help. Die winkel is reeds suksesvol in terme van ondersteuning aangesien ons al gereeld klante kry en sommiges wat net kom draai omdat ons heeldag lekker musiek speel – ons doel is om dit ’n veilige hawe te maak met geluk, vreugde en musiek.”

Die inperking het vir Jaco en Lizette gekniehalter om hul winkel reeds in Februarie oop te maak.

“Ons lewe op die pad. Jaco is my klankman en ek sing. Ons ry soms tot 5 000 km per sessie, maar ons geniet wat ons doen. Die inperking het ons gedwing om dinge anders te benader, maar toe vlak drie aangekondig is, het ons geweet dat ons nou wil oopmaak,” vertel Lizette.

Hulle vertel die gemeenskap ondersteun hulle vreeslik en dat hulle dankbaar is vir die belang­stelling wat daar is.

“Ons vra vir ou artikels wat in die huis rondlê en kyk dan hoe ons ander daarmee kan help. Ons is dankbaar vir mense wat ons gereeld ondersteun en mense soos Axent Signs in Robertson wat spesiaal vir ons ’n gratis naambord ontwerp het en opgesit het. Ons hoop om hordes mense te kan help en deur dit behoeftiges te bereik.”

. Enigiemand wat artikels het om te skenk of wil kontak maak met Care2Share, kan vir Lizette by 083 299 3838 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.