Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lowna se lewe gevier

Lowna Schutte (65) van Botrivier is verlede Maandag oorlede.

Sy was veral bekend op sosiale media omdat sy een van die administrateurs van die dorp se Facebook-blad was.

Boodskappe van medelye het inge­stroom toe die nuus op die Botrivier-gemeenskapsblad bekendgemaak is.

Dries Appelgryn, met wie Lowna die afgelope 27 jaar getroud was, sê hy voer ’n stryd om die verlies van sy vrou se dood te verwerk en te aanvaar. Hulle het daagliks die wêreld se nuus­ge­beure bespreek en het elke dag saam op die stoep van hul huis gesit en gesels.

Twee van Lowna se drie dogters, Annemie en Zola, het Woensdag hul ma se vriende genooi om haar lewe te vier.

Hulle vertel hul ma was ’n besondere mens. “Sy was lief vir haar medemens en was vinnig om te help waar sy kon. Sy was een van daai mense wat baie reguit was – as iets nie reg is nie het sy nie stil gebly nie – sy was ’n mens van beginsel en al het sy soms op tone getrap, het baie mense haar gerespek­teer vir haar opregtheid.”

Annemie, René en Zola sê sy was ’n wonderlike mens en het die swaarkry in haar lewe geken. “Sy het seker gemaak dat sy ons as dogters die beste gegee het wat sy kon. Ons het altyd my ma gesien as iemand wat vir ewig sou lewe, want ons kon nie ons lewe sonder haar voorstel nie,” vertel hulle hartseer. “Sy was ons steunpilaar en altyd dáár om raad te gee en om ons reg te ruk as ons die pad byster raak.”

“My ma was ook baie lief vir haar kleinkinders,” vertel Zola. Al drie dogters was trots op hul ma. “Ons gaan haar baie mis.” Hulle vertel haar laaste paar maande het met baie liggaamlike pyn gepaardge­gaan en hulle gun haar die rus wat sy nou verdien. “Ons weet sy sal altyd met ons wees en ons in gees leiding gee waar ons dit nodig het. Mamma dankie vir alles . . . dankie dat mamma ons die beste gegee het . . . mamma gaan baie gemis word . . . lief mamma baie.”

Jeanette Josie het vir 19 jaar by Lowna gewerk. “As ek enige hulp nodig gehad het, het my mevrou dadelik gehelp. Sy het nooit gewys wat sy op haar skouers dra nie, maar altyd geglimlag. As ek my ounooi bel, was sy daar vir my.” Jeanette se dogter Marina, het ook net goeie herinneringe van Lowna. “Sy was ’n moederfiguur vir ons almal.” Die oorsaak van haar dood is onbekend en sy is Woensdag veras.

Haar dogters gaan haar as in die Karoo by haar pa en ma se graf strooi. “Sy was altyd ’n Karoo-kind in haar hart.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.