Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lyk in vlak graf deur familie uitgeken

Die onbekende man wie se lyk kort voor Jeugdag in ’n bos naby Schoonspruit-plaas ontdek is, is verlede week as die 41-jarige Recardo Plaatjies van Bellville-Suid geïdentifiseer.

Swartland Gazette het vroeër berig lede van Malmesbury-polisie is omstreeks 17:30 op 14 Junie na die toneel ontbied waar Plaatjies se lyk in ’n vlak graf, wat met bande en klippe bedek was, gevind is.

Die ontdekking is vroeër die middag gemaak deur kinders wat besig was om hout te versamel.

Malmesbury-polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, het vroeër gesê die lykskouing het getoon dat die oorledene met ’n nylontou verwurg is. Die identiteit van die oorledene kon nie in daardie stadium vasgestel word nie.

Du Randt het vandeesweek gesê die departement van binnelandse sake het verlede Vrydag (30 Augustus) sy identiteit bevestig. Sy familie is kort daarna in kennis gestel waarna sy ouers Woensdag (4 September) sy liggaam moes gaan uitken.

Plaatjies is meer as drie maande gelede as vermis aangemeld nadat hy 24 Mei laas gesien is. Volgens ’n pamflet van die Wes-Kaapse eenheid vir vermiste persone wat sedert sy verdwyning op sosiale media versprei is, was Plaatjies laas gesien op pad om sy twee kinders by hul skool in dieselfde omgewing af te laai. Hy is nie weer daarna gesien nie. Sy motor is glo later in Mpumalanga opgemerk, maar daar was geen teken van hom nie. Daar word vermoed dat Plaatjies gekaap en toe vermoor is.

Hy was ’n kosbestuurder van Woolworths in Seepunt.

’n Medekollega, Natalie Nayman, het Vrydag ’n video op Facebook gedeel waar sy kollegas in twee rye in die winkel staan en ’n lied aan hom opdra. Daarby het sy geskryf: “Ter ere aan Recardo Plaatjies. Ons sal jou mis.”

Plaatjies het ook as bestuurder vir verskeie jong en opkomende kunstenaars opgetree.

Ronelle Roberts, een van die kunstenaars wat hy bestuur het, het ’n video van haar by ’n vroeë optrede in 2017 op Facebook gedeel en daarby geskryf: “As ek na hierdie liedjie luister, laat dit my net weer besef hoe gelukkig ek was om jou as my bestuurder te hê. Die opofferings wat hy gemaak het om hierdie liedjie (my enkelsnit) op te neem en uit te stuur. Hy het my so goed bestuur dat dit deur die vyf radiostasies oor Kaapstad gespeel is. Hy was my grootste ondersteuner. Jy is die grootste beloning. RIP kan nie glo dat ek sonder jou moet aanbeweeg nie. Ek sal jou trots maak en alles toepas wat jy my geleer het in hierdie ingewikkelde bedryf. Hierdie maak so seer,” sluit sy die inskrywing af.

’n Klag van moord word ondersoek. Niemand is nog vir sy moord in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, AO Hoffman, van Malmesbury-polisie by 022 482 7500 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.