’n Ma van Riebeek-Kasteel is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat sy aan moord skuldig bevind is.
Beatrix Martin is Woensdag 7 Augustus in die streekhof in Malmesbury vyf jaar direkte tronkstraf opgelê nadat sy Abraham Blankenberg (45) in Februarie op die dorpsplein met ’n bottelnek doodgesteek het. Sy was sedertdien die moord in aanhouding.
Martin het Blankenberg daarvan beskuldig dat hy met ’n 11-jarige meisie gelol het. Sy het later gesê sy het eie reg gebruik toe die polisie nie die bewerings wou ondersoek nie. ’n Saak is later geopen, maar ná die oorledene se dood van die rol geskrap.
Die hof het ter strafversagting aanvaar Martin is ’n eerste oortreder.
Die 11-jarige meisie is intussen in die sorg van die welsyn geplaas, berig Samuel Walters.. In ’n afsonderlike hofsaak het Chaleen Filander (27) van Riebeek-Wes, en Adriana Gasenberg (28) en Koos Gysman van Malmesbury, Woensdag 7 Augustus weer in die Wellington-landdroshof weens die moord op Charlton Welkom van Malmesbury verskyn.
Paarl Post, susterskoerant van die Swartland Gazette, het vroeër berig Welkom se liggaam is 11 Mei omstreeks 23:00 by ’n kampeerterrein, sowat 20 km van Kerkstraat, Wellington, gevind nadat “ ’n sleutelpersoon in die ondersoek” die lyk gaan uitwys het.
Filander, Gasenberg en Gysman is kort daarna in hegtenis geneem. Volgens bronne het Filander haar die Saterdagaand aan die Wellington-polisie oorgegee.
’n Polisiewoordvoerder het gesê Welkom en sy vermeende moordenaars was glo in ’n stryery betrokke toe hy met ’n skerp voorwerp gesteek is.
Die saak is tot 14 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes is nog in aanhouding en sal na verwagting op dié datum om borgtog aansoek doen.