Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man kla polisie rand hom aan

’n Robertson-inwoner kla hy is onlangs ernstig deur lede van die polisie aangerand.

Volgens Brenwille Joseph (39) van Panorama in Robertson, is hy Sondagaand 4 Augustus deur twee polisiebeamptes in hegtenis geneem en aangerand.

’n Saak is geopen en die polisie se onafhanklike ondersoekeenheid (Opod) doen die ondersoek.

Joseph sê twee konstabels het hom omstreeks 18:00 in hegtenis geneem en na die polisiekantoor geneem waar hulle hom glo aangerand het.

Dit was nadat verskeie inwoners in Petuniastraat, waar hy woon, glo aan die polisiebeamptes gesê het dat hulle die verkeerde verdagte in hegtenis geneem het, maar hulle het hom steeds weggeneem, sê hy.

Brenwille vertel Sondag laatmiddag het ’n groepie mense sy vrou se ouma, wat net om die draai van hulle woon, se deur “afgetrap”. Sy niggie het toe die polisie laat kom. “Daar was seker iets soos tien polisiewaens wat gekom het. Ons het almal in die pad gestaan. Toe hulle stop het hulle my sommer in die pad al gegryp,” sê Brenwille.

Volgens hom het sy niggie die polisie ingelig dat hulle nie die polisie vir hom ontbied het nie. “Hulle wou niks hoor nie. Hulle het my gegryp en in die polisiewa gegooi. Ons het by die polisiestasie gekom en hulle het seker vergeet om die hek toe te maak. Toe die deur oopgaan, het een van die konstabels my met traangas in my oë gespuit. Ek het op die grond geval met my hande in die oë. Toe ek opstaan het een van die konstabels my met ’n polisieflits op my oog geslaan – só hard dat my ma geskree en hulle die hek toegemaak het,” vertel hy.

Hy sê sy ma en sy tannie het gesien wat gebeur het. “Toe my tannie polisiekantoor toe is, was niemand daar nie. Al wat ek kon doen is my gesig toehou teen die hek en hulle het begin slaan, skop en aangegaan. My gesig, my T-hemp en my tekkies was vol bloed.”

Brenwille sê hy is kort voor 01:00 die Maandagoggend hospitaal toe geneem vir behandeling en dat hy vir twee dae in die selle aangehou is sonder dat ’n klag teen hom aanhangig gemaak is.

“Toe ek Dinsdag uitkom en hof toe gaan, was geen saak teen my op die hoflys nie,” sê hy verder.

Hy sê dit is nie die eerste keer dat die polisie hardhandig teenoor hom opgetree het nie. “Verlede jaar was daar nog ’n voorval waar ’n konstabel my kop getrap het – só erg dat ek ’n operasie moes ondergaan,” sê hy.

“As ek daaraan dink, huil ek. Dit is nou al die tweede keer. Wat gaan gebeur as hulle my voor my vrou en kinders doodslaan? En elke keer word ek nie aangekla nie, want hulle het nie ’n rede nie,” sê hy.

Brenwille sê hy het die aanranding by die polisie aangemeld en ’n saak aanhangig gemaak.

Volgens die Robertson-polisie se stasiebevelvoerder, lt.-kol. HW de Koker, is ’n saak geopen en dit sal deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat in Kaapstad ondersoek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.