Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man vas, maar geld weg

Oom Doepie du Preez (74) van Botrivier se onwrikbare speurwerk het tot die inhegtenisneming van ’n vermeende swendelaar gelei.

Oom Doepie het Niel Schnetler in April 2018 ontmoet toe hy werkswinkelruimte aan hom verhuur het.

Die man het oom Doepie glo met duisende rande ingeloop. “R52 976 is die presiese bedrag wat die gebore verneuker my skuld.” Die Gazette het in die uitgawe van 28 Mei op bl. 3 berig oor die swendelaar wat gesoek word.

Dis egter nie net oom Doepie wat deurgeloop het nie. “Dié man het oor die jare al verskeie mense ingeloop deur voor te gee hy kan hul antieke meubels restoureer.”

Hy het aanvanklik ’n werkswinkel by oom Doepie gehuur en later ’n woonstel asook addisionele stoorplek wat aan die woonstel grens.

Die man het ná drie maande aan oom Doepie gesê hy wil die plek koop. Oom Doepie wag nou nog vir die geld.

Volgens hom het die man heelwat mense in Botrivier so ingeloop en is hy vort met hul deposito’s.

’n Man wat vir oom Doepie by sy stoorplek werk, het hom so ses weke gelede vertel hy weet waar die man hom bevind. “Hy het my vertel die blou bakkie waarmee die verdagte ry, is nou swart en dat hy hom in Gordonsbaai met hout agterop sien ry het.” Die man het hom vertel hy moet links draai by die eerste robot net na Sir Lowryspas. Oom Doepie is toe na die Strand- en Gordonsbaai-polisie om hulle daarvan in kennis te stel. Kaptein Welkom by die Strand-polisie was baie opgewonde toe hy hoor oom Doepie weet waar die verdagte is – Welkom het hom vertel hy is ook op soek na die man in verband met sy bakkie wat met ’n diefstal verbind word.

Oom Doepie het voorverlede Vrydag gaan ry en soek. “Ek het ’n man by die afrit gekry en later het ’n tweede man ook nader gestaan, wat my vertel het hy ken die verdagte.”

Die twee mans het oom Doepie vertel die man is aan die anderkant van die nasionale pad op ’n kleinhoewe. Oom Doepie het egter ander sake gehad om te doen en sou later terugkom.

Oom Doepie het toe verlede Dinsdag weer oor die berg gery om kapt. Welkom te gaan spreek, maar die kaptein was afwesig.

Oom Doepie is toe na die Gordonsbaai-polisie waar AO Esterhuizen hom gehelp het om Gavin Brink, speurhoof by die Caledon-speurtak, te bel.

Esterhuizen het oom Doepie vertel hy kan nie die verdagte sonder die nodige papierwerk in hegtenis neem nie. “Hy het Brink in die hande gekry om al die saaknommers te bekom. Brink het ingestem. Dit was toe al so skuins na 14:00 Dinsdagmiddag,” vertel oom Doepie.

AO Esterhuizen het die een man wat oom Doepie vertel het hy ken die verdagte, saamgevat na Sir Lowrys-pas.

Oom Doepie het aan AO Esterhuizen foto’s van die bakkie gewys en hy het toe die man saamgeneem na die kleinhoewe om eers seker te maak dit is die verdagte voordat hy hom in hegtenis neem. “Hy het toe die man teruggebring wat hom uitgeken het, en is terug om hom in hegtenis te neem.”

Oom Doepie het daarop aangedring dat die man nie borgtog toegestaan moet word nie omdat hy ’n voortvlugtige is en nie ’n permanente adres het nie.

Talle klagtes, wat tot 1993 terugdateer, is teen die verdagte by die polisie ingedien.

Danie Slabbert, ’n gastehuiseienaar van Hermanus, is glo ook deur die man ingeloop toe hy plek gesoek het om meubels te stoor. “Hy het my vertel dis sy stoorplek en dat hy die meubels vir my sal verkoop.” Elke keer wat Slabbert hom bel, het die man ’n ander storie gehad oor waarom hy nog nie betaal het nie. Slabbert het ’n diefstalklag by die Botrivier-polisie aanhangig gemaak.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die provinsiale polisie, het bevestig hy is bewus van vyf sake van bedrog en diefstal teen die man.

Sers. Deono Hoffman, ’n speurder van Caledon, het by navraag bevestig dat Niel Schnetler Vrydag in die Caledon-hof op aanklag van bedrog en diefstal verskyn het.

Die saak is tot 11 Julie uitgestel en hy is steeds in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.