Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Matrieks presteer in eksamen

Hoewel slegs die Hoërskool Porterville met ’n 100%- slaagsyfer kon spog na afloop van die nasionale senior sertifikaateksamen, het leerders in die Swartland-streek steeds puik presteer.

Die Hoërskool Swartland het ’n 98,6%-slaagsyfer behaal met twee druipelinge en een leerder wat nie sy matriekjaar voltooi het nie.

Uit die 148 leerders het 12 A-gemiddeldes behaal. Die skool spog ook met 87,5% leerders wat toelating tot baccalaureus-studies ontvang het, wat volgens die skoolhoof, Justus Schoon­raad, die hoogste universiteits­toelating in die skool se geskiedenis is.

Die skool se topstudent is Frank Mouton met ’n gemiddel­de van 93,9% en sewe onderskei­dings.

Frank, ook Weskus-dikstrik se topmatrikulant, het gesê sy uitslae is baie beter as wat hy verwag het. Hy gaan vanjaar Bcom(Rek) by die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.

Liza Eksteen was kort op sy hakke met ’n gemiddelde van 92,6% (sewe onderskeidings) en Aiden Newman met 90,7% (ses onderskeidings). René Joubert (’n gemiddelde van 88,9%) en Joubert du Bois (’n gemiddelde van 88,6%) het ook elk sewe onderskeidings verwerf.

Schoonraad het met die bekendstelling van die uitslae aan matrieks en teenwoordige ouers gesê hoewel hy aan­vanklik teleurgesteld was dat die skool nie ’n 100%-slaagsyfer behaal het nie, is hy baie beïndruk met die uitslae en het die leerders geprys vir hul uitmuntende prestasies. Hy is egter vol hoop dat 2020 ’n 100%-slaagsyfer sal oplewer.

Die Hoërskool Dirkie Uys het ’n slaagsyfer van 98,4% behaal en ’n 83%-universiteits­toela­tingsyfer.

Die skool het vier A-gemiddel­des opgelewer. Die topleerder van die skool is Louwrens Smit met ’n gemiddelde van 91,7%.

Judy Swarts, Charlton Andrews en Johan van der Westhuizen het ook elkeen ’n A-gemiddelde behaal.

Louwrens gaan vanjaar BSc (Sportwetenskap) by US studeer.

Oor sy prestasie het hy gesê: “Ek is heel tevrede met my uitslae. Dit is net wiskunde en fisiese wetenskap wat my bietjie gegooi het. Dit was moeiliker as wat ek verwag het.”

Illingelethu Sekondêre Skool het ’n 66,9%-slaagsyfer behaal. Die topleerder is Siphesande Mabangula.

Hoërskool Piketberg het ’n 98,3%-slaagsyfer behaal en agt A-gemiddeldes. Die topleerder is Marinda Nelson met ’n gemiddelde van 92,6% en sewe onderskeidings. Bosmann Rossouw (88,7%) en Janke van Schalkwyk (90,7%) het ook elk sewe onderskeidings gekry.

Hoërskool Porterville was die enigste skool in die streek wat ’n 100%-slaagsyfer behaal het met vyf A-kandidate. Die skool­hoof, Willem Engelbrecht, het gesê hy is baie bly vir die jong mense se onthalwe en ook trots op die skool wat dit weer eens vermag het. “Dit is elke jaar ons doelwit om ’n 100%-slaagsyfer te behaal.”

Die skool se topleerders is Petro Janse van Rensburg met ’n gemiddelde van 87,14%, Andrea Bester (86,71%), Mariechen van Baalen (85%), Rohan Knoetzen (84,86%) en Anlu Behm (82,86%).

Schoonspruit Sekondêr het vanjaar beïndruk met ’n 88,9%-slaagsyfer, ’n byna 10% verbetering teenoor 2018 se 79,4%.

Die skool se topleerder is Ashlynn Arendse met ’n gemid­delde van 79,14% en vier onder­skeidings.

Die skoolhoof, John Stewe, het gesê hy is baie verlig oor die uitslae en “trots” op die matrieks se verbeterde uitslae in 2019 se eksamen.

Hy het die skool se prestasie toegeskryf aan risikovakke soos besigheid­studie, lewenswetenskappe en wiskunde geletterdheid wat vroeg in 2019 geïdentifiseer is en intervensies wat ingestel is op die verbetering daarvan.

“Ons het ook ’n groter toe­name in bywoning van ekstra­klasse gehad nadat ons die matrieks gereeld gemotiveer het dat die skool geloof in hulle het. Leerders van omliggende dorpe is met die skoolbussie vervoer. Intervensies soos kantoor­gesprekke met matriekleerders en ouers, tuisbesoeke, WattsApp-gesprekke tussen vakonder­wysers en ouers en strenger dissiplinêre optredes teenoor matrieks het beslis bygedra.

“Die skool se motto, moving beyond the glass ceiling, het matrieks gemotiveer om bo hul omstandighede te presteer. Laastens, ek het nog altyd geloof gehad in my onderwysers. Hulle is ongelooflik passievol, toege­wyd en wil ’n ekstra myl met ons leerders loop. Die matriek­ouer-ondersteuning was in 2019 ook beter as vorige jare.”

Steynville Sekondêre Skool en Wesbank Sekondêr het onderskeidelik ’n slaagsyfer van 62,3% en 75,4% behaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.