Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Melktertbakster lê haar panne en klitsers neer

Na 30 jaar van melkterte bak, 53 000 melkterte en drie stowe later, het tannie Noami Basson (80) besluit om uit te tree.

Inwoners van Malmesbury ken haar vir haar heerlike terte wat sy vir Kontreispens gebak het, waar sy 30 jaar gelede haar vriendin begin uithelp het.

“Om eerlik te wees het ek niks van kosmaak en huiswerk gehou toe ek jonger was nie. Jy het my altyd buite gekry, maar nooit agter die kospotte nie. Toe ek trou kon ek nie eens rys gaarmaak nie, maar gelukkig het ek ’n engel vir ’n skoonma gehad, wat my gou touwys gemaak het. Sy het my met liefde begin leer,” vertel sy waar sy in haar sitkamer sit.

Diegene wat haar ken, sal weet dat haar eerste liefde eintlik tuinmaak is.

“As kind, wanneer ons altyd die botaniese tuine gaan besoek het, het my vriende plante gekoop en ek het by hulle steggies gekry wat ek self verder gaan plant het. Dit was vir my interessant om te sien hoe dit groei.”

“In daardie dae kon ’n vrou egter net drie dinge word – ’n verpleegster, ’n onderwyser of ’n sekretaresse – en ek het toe maar die onderwys gekies.”

Sy het jare lank by die Laerskool Swartland as onderwyser gewerk en sê dit is toe haar man die familieplaas moes oorneem, dat sy besef het sy moet begin ekstra geld maak om die huishouding te ondersteun.

Sy het toe in 1987 begin melkterte by haar vriendin se tuisnywerheid bak, Kontreispens, waar sy gemiddeld 300 melkterte per maand gemaak het. Sy het van haar eerste maand by Kontreispens al meer begin bak.

Die resep vir haar bekende melkterte is ’n familiegeheim wat net haar oudste dogter en, tot onlangs, haar niggies se kinders het.

“Dit was my ouma, my naamgenoot en ’n bobaasbakster van Hopefield se resep en vir jare het ek gesukkel om dit te volmaak. Totdat ons afgetrede huishulp eendag aan my noem dat ek ’n titseltjie eiergeel moet by klits.”

Basson se knieë is 16 jaar gelede vervang en vanjaar moes dit weer vervang word.

Buiten die knieë wat haar vir ses weke van die been af gehou het, het sy altyd gesê sy sal op die ouderdom van 80 ophou bak.

“Jong, hoewel ek besluit het om op te hou, is daar nog ’n klomp mense wat my lastig val om te bak, dan bak ek maar,” sê sy skertsend.

Haar raad vir ’n goeie melktert is eintlik baie eenvoudig – maak seker jy verstaan die temperatuur van jou oond.

“Ek dink enige melktertresep kan werk, maar die sukses van ’n lekker melktert is die temperatuur van jou oond. Alle oonde se temperature verskil, maar dis iets wat jy stelselmatig aanleer. Deesdae se jongmense is so ongeduldig en hou nie aan as iets misluk nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.