Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oes kan normaal wees

Die plaaslike wynbedryf verwag in hierdie vroeë stadium dat die 2019-wyndruifoes in die meeste streke na normaal kan terugkeer danksy die goeie reënval kort op die hakke van ’n drie jaar lange droogte.

Die grootte en gehalte van die 2019-wyndruifoes sal verder beïnvloed word deur weerstoestande in die blomperiode en aanloop tot parstyd, tesame met wingerde se vermoë om van die droogte te herstel en die betrokke streek se wingerdstand.

Dit is volgens ’n voorlopige verslag van die distrikstoestande wat onlangs deur die wynbedryfliggaam, Vinpro, se wingerdkundige konsultante saamgestel en deur die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels (Sawis) uitgereik is. “Die droë, warm toestande wat gedurende die 2018-parsseisoen geheers het, het voortgeduur in die na-oesperiode, wat in sommige gevalle ’n positiewe invloed op blaarval en die opbou van noodsaaklike reserwes gehad het,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerd­kundige konsultasiediens.

Volgens Francois dra die groter beskikbaarheid van water toe tot die bedryf se verwagting dat die wyndruifoes in die meeste streke na normale vlakke sal terugkeer, mits die gunstige weerstoestande voortduur.

Lae reserwevlakke weens die vorige drie jaar se droogte, asook ’n krimpende wingerdstand in die meerderheid streke sal ook deurslaggewende faktore ten opsigte van die 2019-oes wees. Die totale hektare onder wyndruifwingerd in Suid-Afrika het met 1 296 ha gekrimp in 2017 teenoor die vorige jaar.

“Aan die positiewe kant sien ons ’n herlewing in wyndruifwingerd-aanplantings in 2018,” sê Francois.

“Produsente in die Klein Karoo ontvang geen water van ’n skema nie, en is afhanklik van water uit die Swartberge en omliggende klowe. ’n Hittegolf middel Oktober, tesame met sterk winde, het hierdie watertoevoer verder uitgedroog,” sê Jandré Human, bestuurder van Barrydale- en Ladismith-kelders.

Volgens Hennie Visser, Vinpro-wingerdkundige vir die Robertson- en Klein Karoostreke help water uit boorgate om waterbronne aan te vul, maar is nie voldoende nie.

“In baie gevalle is die gehalte van hierdie water nie baie goed nie. Goeie reën is nodig om waterbronne aan te vul en soute uit die grond te loog.”

Die streek ontvang gewoonlik suidoostereën in April en Mei en weer in Oktober en November. Geen noemenswaardige reën het sover in die periodes geval nie en produsente in die streek is van mening dat wingerdgroei werklik belemmer sal word indien dit nie sou reën nie.

Besoek www.vinpro.co.za vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.