Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Olyffees vol smaak en verrassing


’n Stukkie Italiaanse Swart­land.

Dít is hoe die trotse olyf- en wynprodusente hul geliefde Riebeek-Vallei beskryf.

En met reg.

Met ’n onlangse mediabesoek aan dié vallei, as voorsmakie vir die opkomende Riebeek-Vallei-olyffees wat Saterdag 9 en Sondag 10 Mei gehou word, was die passie en kennis waarmee die produsente hul produkte bekendstel, opvallend. Daarmee saam ’n plattelandse gasvryheid wat jou onmiddellik laat tuisvoel.

Die gewilde fees trek vanjaar ’n nuwe baadjie aan om die vallei op ’n dieper vlak aan die feesgangers bekend te stel.

Dit sal plaasvind in die vorm van ’n reeks meesterklasse in olyfolie-proe- en wynervarings – ’n nuwe toevoeging tot die fees om ’n nuwe waardering vir die gehalteprodukte wat die vallei bied, by feesgangers te kweek.

Daar kan ook uitgesien word na ’n intieme langtafel-ete saam met een van die vallei se gunstelingwynprodusente waar feesgangers ’n tradisionele, eg plattelandse “plaas-na-tafel-ervaring” sal kan geniet.

Die gewilde staproete deur die olyfboorde en wingerde is weer vanjaar op die feesaan­bieding, tesame met verskeie ander aktiwiteite. Die fees beloof om iets vir almal te bied.

Vanjaar se vyf deelnemende venues is Meerhof-wyne, Kloovenburg-wyn- en olyflandgoed, Olive Boutique, Riebeek Vallei Wine Co. en Allesverloren.

Die media het verlede week die geleentheid gekry om al die deelnemende venues te besoek.

Die eerste stop was Klooven­burg-wyn- en olyflandgoed waar die groep aangesit het vir ’n olyf- en olyfolie-proe gepaar met van die landgoed se wyne, aangebied deur Willie Lienben­berg. Daarna het die groep ’n middagete saam met die meester en olyfolie-kenner Linda Costa, by Meerhof-wyne geniet. Linda gaan ook vier van die meesterklasse by die fees aanbied.

Die bekroonde sjef, Coenie Kruger van die Mama Cucina and Skinny Buddha-faam, het ’n unieke plattelandse piek­niek­tafel voorgesit – alles van tuisgebakte brode, patees, olywe, biltong en quiche.

Ná middagete het die wynmaker Jaco Brand ’n wynproe in die kelder aange­bied en meer oor die proses van wingerd na bottel vertel.

Met ’n nuutgevonde kennis oor die kuns van wynmaak het die groep die geleentheid gehad om hul hand as wynma­ker te waag en hul eie rooiversnit te meng by Riebeek Valley Wine Co met wynmaker Alecia Boshoff.

Die volgende stop was Allesverloren waar die wynmaker Wilhelm de Vries en eienaar Danie Malan ’n wynproe van hul hoëgehalte verouderde wyne aangebied het. Die verouderde wyne dateer van sover as 1997.

’n Vinnige asem skep en dit was tyd om te gaan aansit vir aandete.

Ná ’n verwelkoming deur die talentvolle jongspan van die Steelband-projek, ’n gemeen­skaps­opheffingsprojek om musiekonderrig aan jong kinders in die gemeenskap bekend te stel, is die gaste na die historiese The Royal Hotel genooi vir ’n welkomdrankie voor die langtafelfeesmaal by A Bouchon Rouge Brasserie, voorberei deur die plaaslike Franse sjef Julien Debray in ’n lekker kuieratmosfeer saam met al die plaaslike wyn- en olyfprodu­sente.

Met topklas verblyf by Ruby Rose Country House is die gaste die volgende oggend ná ’n behoorlike plaasontbyt weggestuur vir ’n opvoedkun­dige stappie deur die olyfboor­de by Kloovenburg waar van die eerste olyfbome reeds in 1986 geplant is.

’n Laaste stop voor vertrek was vir ’n olyfolie-proe by Derek van der Riet en Susan Aird van Olive Boutique waar Susan die groep onder meer ingelig het oor die verskeie gesondheidsvoordele wat olyfolie inhou.

Kaartjies vir die fees is R150 en is van Woensdag 12 Febru­arie beskikbaar by www.riebeekvalleyolivefestival.co.za. Die prys sluit ’n naweekkaartjie met toegang tot al die deelnemende venues sowel as ’n olyffeeswynglas en drie gratis wynproeë in.

Die meesterklasse en lang­tafel is nie by die naweek­kaartjie ingesluit nie en moet bespreek word.

Kom geniet bekroonde olyfolies, olywe en olyfkonfyte- en patees, vyfsterwyne, boutiekbiere, kleurryke plaaslike kultuur en alles anders wat die vallei bied, onder meer ’n verskeidenheid charismatiese restaurante, kunsgalerye, plaaslike handgemaakte klere en produkte en geskenkwinkels en die klanke en talent van plaas­like kunstenaars en musikante.

Daar sal vanjaar geen vervoer tussen die verskillende venues beskikbaar wees nie en feesgangers word dus aangemoedig om alternatiewe reëlings te tref.

Vir nog inligting, besoek die olyffees se webwerf of stuur ’n epos aan riebeekvalleyolivefestival@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.