SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Op pad om bekend te word

Plaaslike talent is volop in die Swartland en die jong Hope Tilling (21) van Darling is net een voorbeeld hiervan.

Hope het in dié Swartlandse dorpie grootgeword waar sy as jong meisie haar liefde vir toneelspel op die verhoog in die Sondagskoolproduksies ontdek het waar haar ma ook ’n Sondagskoolonderwyseres was.

“Van die begin af toe ons daardie eerste produksie doen – en ek was die een wat altyd voor wou wees – het ek geweet dís wat ek met my lewe wil doen,” vertel sy.

Hope het aan die Hoërskool Swartland gematrikuleer en sê sy het nie in haar skooldae veel op drama gekonsentreer nie.

Ná skool het sy modelwerk by 39 Steps Casting gedoen, ’n talentagent­skap wat in Table View is. Sy het ook in advertensies gespeel vir onder meer Ink in the Sun en Pepsi. “Ek het daar­na rondgesoek na talentagentskappe wat my kan help met geleenthede as aktrise”, vertel Hope. Dit is tóé dat sy op 33 and Me afgekom het, onder leiding van Elsubie Verlinden. Sy het eers vir Verlinden ’n oudisie gaan aflê. Daarna het sy die nuus ontvang dat sy teruggeroep is vir nóg ’n oudisie. Einde September is sy na Johannesburg vir oudisies voor Joey Hunter, ’n verteenwoordiger van IMTA (International Modeling and Talent Association), Rhavynn Drummer, ’n onafhanklike direkteur om akteurs te werf vir Tyler Perry Studios, Blaze Johnson van The Voice America, en sanger/liedjieskrywer Nate Butler. Sy vertel die volgende oor die oomblik toe Hunter haar skakel met die nuus dat sy deur is na die volgende ronde.

“Dit was omtrent 12 uur in die nag (Saterdag) toe hy my gebel het. Ek het die Amerikaanse aksent gehoor en net doodstil gesit – ek kon dit nie glo nie. Ek was heelnag op en die volgende oggend vroeg het ek na die kantoor toe gegaan om hom te sien.”

Hunter het ook bekende vermaaklik­heidsterre soos Jessica Biel, Eva Longoria, Elijah Wood, en nog meer ontdek. Die volgende oudisie vind in Julie volgende jaar in New York plaas waar Hope voor ’n paneel van beoordelaars en omtrent 300 talent­soekers oor die wêreld, onder andere Sony, Universal Music en regisseurs van Hollywood, haar staal sal wys. Hiér hoop sy om ’n agent te kry wat die deur vir internasionale kontrakte sal oopmaak. Behalwe vir hierdie groot geleentheid vertel Hope dat sy ook baie uitsien daarna om New York te verken. “Ek sien uit daarna om die Statue of Liberty te sien en ook om in Time Square te loop, dit sal iets besonders wees”, sê sy.

In voorbereiding vir hierdie oudisie gaan Hope in Januarie 2020 Pretoria toe om professionele werksessies by te woon wat aangebied word deur Verlinden en haar span. Hope sê haar hoop vir die toekoms is die volgende: “Ek sal ook graag wil liedjies skryf. Ek skryf al liedjies vandat ek 12 jaar oud is.”

Sy het al ’n liedjieskryfkompetisie gewen waarna haar lirieke in ’n Hannah Montana-tydskrif verskyn het. Hope sê dit is ook haar grootste droom om in ’n Netflix-reeks te speel. Sy en haar ma, met wie sy ’n hegte band het, het juis ’n Stranger Things-marathon gehou toe sy die oproep van Hunter ontvang, skerts sy. Maar vir nou wil sy net haar beste doen en dié geleentheid wat oor haar pad gekom het optimaal benut.

Hope sê haar familie is baie opgewonde en ondersteunend oor die geleentheid wat sy gekry het om haar droom na te jaag.

“My ma is in die wolke oor dit, want sy het altyd gesê ek sal dit maak, maar ek moenie al my hoop daarop plaas nie. En kyk nou.”

Die kostes om in New York te kom, moet Hope self dek. Dit sluit in al die vervoerkostes, verblyfkoste en dokumentasie. Indien enige iemand vir Hope wil help, kan hulle haar kontak by 076 532 0475.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.