Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oudleerder ontvang sy graad

Die gradeplegtigheid van Rasaad Adams (21), ’n boorling van Botrivier, het Vrydag 13 Maart by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU) plaasgevind.

Nie net het Rasaad sy BA-graad in kommunikasiestudies in die minimum tydperk verwerf nie, maar hy was ook een van 10 studente uit ’n groep van 76 aan wie hierdie graad met ’n onder­skeiding toegeken is.

Rasaad het in 2016 aan Swartberg Sekondêre Skool gematrikuleer. Vanjaar is hy besig met sy honneursgraad in joernalistiek en mediastudies by die NWU.

Reeds as eerstejaarstudent is hy genooi om by die Golden Key Honor Society aan te sluit. Hierdie is ’n internasionale organisasie wat erkenning gee aan toppresteerders op universiteitsvlak.

Benewens die akademie, is Rasaad aktief betrokke op kampus. Hy was in sy eerste twee jaar ’n nuusleser en aktualiteitsaanbieder by die NWU se kampusradiostasie, PUKfm 93.6.

Rasaad is ook betrokke by die NWU se korporatiewe departemente en het al verskeie onderhoude gevoer met onder meer die ingenieurs van die NWU se sonkrag-kar wat jaarliks aan die Sasol-sonkrag-karkompetisie deelneem. Hy het ook die voorreg gehad om ’n onderhoud met Demi-Leigh Nel-Peters (Mej. SA en Mej. Heelal, 2017) te voer.

“Hierdie onderhoud met Demi-Leigh was beslis een van die hoogtepunte van my universiteitsjare. Dit was vir my wonderlik om te sien hoe een van ons eie bekendheid op internasionale platforms verwerf het,” het Rasaad gesê.

In sy vrye tyd skryf hy vir die plaaslike koerant in Potchefstroom, die Potchefstroom Herald.

Rasaad het verlede jaar op die uitvoerende komitee van Bemarking en Openbare Betrekkinge (BOB) gedien. BOB-lede is aktief betrokke in studentewerwing, besoek skole en neem voornemende studente op kampustoere. By meer as een Varsitybeker-wed­stryd was Rasaad die voorsanger van die volkslied. Hy dien tans op die huiskomitee van Veritas-manskoshuis, een van die NWU se kampuskoshuise.

“Ek glo deur aktief betrokke te wees en daarmee praktiese ervaring op te doen, sal as goeie voorbereiding dien vir wanneer ek eendag die beroepslewe betree,” het hy aangevoer.

Rasaad erken dankbaar elkeen wat ’n rol in sy akademiese sukses gespeel het.

“Hoewel my akademiese loopbaan nog lank nie klaar is nie, is ek innig dankbaar vir almal wat my gehelp het om hierdie mylpaal in my lewe te bereik – ongeag of die ondersteuning sosiaal, emosioneel of finansieel was, ek is so, so dankbaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.