Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouers se seer lê nog baie diep

Sowat ’n maand nadat die eenjarige Wade Mouries van Ashton in ’n oop mangat geval en verdrink het, is sy ouers steeds sonder antwoorde en word hul seer en verlange net elke dag erger.

Intussen het die ingenieursmaat­skappy, wat verantwoordelik is vir die opknapping van dié pad, sy verslag voltooi en sê dit is nou in die polisie se hande.

Wade en sy ma, Gwyneth, het die Sondag (14 Junie) net ná 18:00 na die plaaslike winkel oorkant hul huis gegaan om noodsaaklikhede vir die week te gaan koop. Die Mouries-gesin woon reg langs die R60-pad in Ashton – ’n pad wat tans opgeknap word.

Sy het hand aan hand met hom gestap en ’n motor het langs die pad stilgehou. Dit was ’n vriendin van die gesin wat sy jare laas gesien het. Hulle het nog gepraat en die volgende oomblik het Wade se handjie uit haar hand geglip.

“Hy het in die gat geval. Talle mense het om die gat gestaan en die nooddienste gebel, maar hulp het eers sowat 45 minute later opgedaag. Ek het besluit om in te spring en hom self uit te haal. Dit was baie donker en die water het diep gelê. Dit het my tot by my bors bedek. Ek kon hom nie voel nie. Ek kon hom nie kry nie. Ek kon hom nie red nie. Toe hulle hom uithaal, was hy dood,” vertel sy pa, Deon.

Kommentaar van Haw & Inglis (H&I) Construction, die konstruksie­maatskappy wat aan die pad werk, het gestel dat hy simpatie met die Mouries-gesin het en dat ’n ondersoek van stapel gestuur is – nou is die ondersoek so te sê afgehandel.

Die veiligheidsbestuurder en die res van die span het die ondersoek namens die maatskappy afgesluit.

“Uit die aanvanklike gevolgtrekking is gevind dat die beskermende bedekking en die deksel na die mangat gesteel of deur onbekende persone verwyder is wat ’n onbedekte mangat agtergelaat het. Daar is streng protokol vir veiligheid van die perseel. Dit gesê, die terrein is uitgebrei en diefstal en vandalisme is aan die orde van die dag. Daar is vrae in ons ondersoek waarop ons nie nou antwoorde het nie. Ons glo dat voortgesette polisieondersoekwerk die regte forum bly vir die vasstelling van die presiese omstandighede wat tot dié tragedie gelei het. Ons het die polisie ons volle ondersteuning en samewer­king in hierdie verband aangebied,” vertel Francis Chemaly, die kommersiële direkteur van H&I Construction.

Dié maatskappy het na die familie uitgereik en aangebied om die koste van professionele traumaberading te dek. “Ons het ’n brief aan die familie gerig waarin ons dit alles uiteensit. Ons verneem dat die gesin tans regs­advies inwin oor hul regte in hierdie aangeleentheid. Ons respekteer hul regte en moet gevolglik toelaat dat die saak sy gang gaan,” het hulle bygevoeg.

Sy ouers vertel die seer is nog elke dag by hulle en die feit dat hulle net oorkant die pad bly en dat Deon toevallig ’n werknemer van hierdie maatskappy is, ontstel hulle geweldig.

“Ons het seer. Ons seun is weg. Alles is nog ’n raaisel en ons het nie antwoorde nie. Dit was ook moeilik, want ons moes heeltyd bel en probeer uitvind wat aangaan en waar die ondersoek trek,” vertel die ouerpaar.

Gwyneth vertel hoe sy sommige aande nie kan slaap sonder om in haar geestesoog ’n terugflits te kry na die oomblik toe haar seun voor haar weggeraak het nie.

Die gesin is tans besig om verdere hulp in te win. Ashton-polisie het bevestig die ondersoek is steeds aan die gang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.