Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouetehuis nie vir Oumie bedoel nie

Een van die ongemaklike gesprekke in ’n familie, buiten wie kry die huis of om van geloof of kerk te verander, is die onderwerp van ’n ouetehuis.

Dit kan ’n onplesierige debat raak met ’n moddergooiery waarom jou ouers en selfs grootouers nou skielik ’n las is deurdat jy hulle wil verban in vreemde mense se sorg.

Dit kan selfs daartoe lei dat familielede vir jare bollawange vir mekaar is en selfs by begrafnisse nie eens in dieselfde skof aan die kis wil dra nie.

Vandeesmaand lees ek van ’n 92-jarige vrou van Amerika wat haar eie seun doodgeskiet het omdat dié haar glo in ’n ouetehuis wou plaas. Volgens gerugte wil sy nie ouetehuis toe gaan nie.

Dit het my laat dink aan my 87-jarige ouma. Ek dink darem nou nie sy sal so ver gaan om die daad te pleeg nie, wel ek hoop nie so nie, maar ek weet hoe sy haar verset teen die idee van ’n ouetehuis. Toe ons die gesprek ophaal het sy wal gegooi. Sy is nie meer vandag se kind nie en die artritis en ander kwale waaronder ou mense gebukkend staan, is ook deel van haar lewe, maar nie daai mond nie. Daai tong is steeds sweet sixteen skerp, onvoorspelbaar en giftig.

Een van die redes waarom die ouetehuis ’n beter opsie was, is omdat sy nie meer daardie sterk vrou is wat sy destyds was nie. Soos die maande aangaan kan sy minder vir haarself doen – al is daar niks met haar kop verkeerd nie.

Een van haar jonger susters is in ’n ouetehuis en sy is nogal baie gelukkig dáár en my verweer was hulle kan mekaar geselskap hou en sy sal nie so alleen deur die dag wees nie. Haar oortuigende antwoord was: “Wat moet ek tussen ’n klompie ou en sieklike mense maak?”

Afgesien van die ironie in haar repliek het die idee ’n stille dood gesterf. Ons as gesin het maar besluit om, om dit te werk. Mams het ook nooit ’n probleem gehad om na Oumie in haar goue jare om te sien nie.

Om oor ouetehuis te praat, is nie altyd maklik nie, maar ons moet nie net ons ouers by ’n sorgsentrum gaan aflaai en eenkeer ’n skrikkeljaar gaan kuier nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.