Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Parstyd later as vroeër jare

’n Stadiger rypwordings-proses het vanjaar ’n ietwat later wyndruifoes teweeggebring met meeste wynprodusente wat eers hierdie week die 2021- parsseisoen sal begin.

Wynprodusente is dit egter eens dat hoewel die gehalte van die druiwe voorlopig goed lyk en ’n goeie pars voorspel, die uitwerking van ’n derde alkoholverbod nie ongesiens bly nie.

Volgens Eben Sadie van The Sadie Family Wines in die Paardeberg wat vandag met hul wyndruifoes begin, was dit boonop een van die seisoene waar ongelooflike siekte-druk in die streek ervaar is.

“Maar die oes lyk regtigwaar goed. Die manne wat hul oeste netjies opgepas het en wie se spuitprogramme op datum was, kan ’n mooi oes verwag.”

Hy sê verlede week se hitte het egter vir ’n bietjie benoudheid gesorg, hoofsaaklik omdat die Swartland grotendeels uit droëland-boerdery bestaan. Dit wil sê produsente maak staat op reënval. Of daar reën binne die volgende ses weke sal val, kan dus nog ’n rol speel.

Sadie sê hulle het in 2019 redelik in hul privaat kapasiteit aanplantings gedoen en sal waarskynlik weer volgende jaar aanplantings doen. “Daar is redelik baie opvolgwerk die jaar ná aanplantings gedoen word en dit gaan ook maar oor arbeidsverspreiding.”

Hy sê met die derde drankverbod is die bedryfsoorsig vir die streek nie te positief nie en is die moreel onder produsente maar laag. “Daar is ouens wat gesê het hulle gaan wingerd uitruk. Ek dink ons gaan oor die volgende 24 maande eksodus kry. Die ouens is net moeg vir die gesukkel.”

Sadie sê ten spyte van die huidige uitdagings in die bedryf probeer hy positief bly.

“As boer moet jy maar positief bly.”

The Sadie Family Wines se mark is 50% nasionaal terwyl die ander helfte uitgevoer word.

Weens die derde drankverbod sê Sadie hulle het nog nie regtig ’n plan vir 2021 nie en meen alles hang af van wat volgende met die sogenaamde “Blanket Approach” gaan gebeur wat die regering volg.

“Alles is polities sensitief, want as daar sekere uitsonderings vir die bedryf gemaak word, word daar weer gesê dit is polities gemotiveerd.

Iemand sê nou die dag vir my: ‘Suid-Afrikaners kan die waarheid hanteer, maar dit is hartseer dat ons regering nie kan nie’.

“Hulle kyk nie eers na voorstelle van die bedryf nie. Die benadering word te globaal geïnterpreteer. Hier is ouens wat nie eens op die oomblik na hul oes kyk nie omdat daar reeds soveel wyn in die land rondlê.”

Sadie meen dit is hartseer, veral omdat die Swartland op wêreldstandaard die grootste wynstreek in deursnit is – nie volgens aanplantings nie maar wel volgens deursnit in klimaatsverandering.

“Hier kry jy iets van alles. Jy kan nie veralgemeen nie.”

Jorrie du Plessis van Lammershoek sê ook hulle skop parstyd hierdie week af – sowat twee weke later as gewoonlik.

Dit is hoofsaaklik weens die goeie reën die seisoen en matige somertemperature wat ’n koeler groeitydperk en stadiger rypwordingsproses tot gevolg gehad het.

“Ons sal net dalk ’n bietjie vinniger moet pars wat die gaping tussen die oorskakeling nouer sal maak. Ons sal dus moontlik ’n vinniger oorskakeling van chenin (wit) na (latere rooi) shiraz moet maak.”

Du Plessis sê hulle was geseënd om nie soos party ander produsente deur donsskimmel getref te word nie en meen die druiwe lyk goed en gesond.

Hulle het wel bietjie shiraz-wingerde uitgetrek wat virus opgehad het, maar hoop om dit in die toekoms te hernuwe.

Oor die uitwerking van ’n derde drankverbod, sê Du Plessis waar hy normaalweg ander jare teen die tyd klaar was met die vermenging van sy versnitte lyk die prentjie effe anders die seisoen.

“Dis ook seker die eerste keer dat ons nog in parstyd botteleer – dit is heeltemal buite roetine.”

Du Plessis sê hy beoog ook nie om vanjaar so baie te botteleer soos ander jare nie. Hy sê teen R8 ’n bottel en R4 ’n skroefdop en die huidige onvoorspelbaarheid oor die pad vorentoe moes hulle die strop bietjie nouer trek en het dus ook hul teikens vir die plaas-like mark afgeskaal veral omdat hulle nog met surplus voorraad sit.

“Dit is darem nie so baie nie, maar dit het nog nie gebeur dat ons met so soveel wyn sit nie. Ons is gelukkig om die stoorplek daarvoor te hê, maar ons kan verseker nie nog so stampie bekostig nie.”

Hy sê egter hulle is dankbaar dat die bedryf ná die eerste drankverbod hul uitvoere kon hervat en dat dit inderwaar-heid die internasionale mark is wat hulle gedurende die afgelope maande aan die gang gehou het.

Hy glo egter daar is geleent-hede vir kleiner kelders in die plaaslike mark as dinge eers stabiliseer.

By Org de Rac, buite Piketberg, sê Frank Meaker hulle is ook tevrede met die gehalte van die druiwe en sal ook eersdaags begin pars.

Ook Allesverloren het teen verlede week nog nie begin pars nie. Volgens Wilhelm de Vries is dit ook weens die koeler groeitydperk wat ’n stadiger rypwordingsproses teweeggebring het. Hy is egter baie tevrede met die gehalte van die druiwe en voorspel dat hulle redelik dieselfde soort oes as verlede jaar sal sien. De Vries sê hulle het geen nuwe aanplantings die seisoen gedoen nie.

Met vrese dat produsente met groot surplusse parstyd gaan ingaan, sê De Vries hulle is geseënd om omtrent niks surpluswyn oor te hê nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.