Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pater van Perdeverlies

Liewe Pa

Gebore as voorlaaste in ’n lang ry van elf het jy altyd gespot dat jy geen keuse gehad het onder die plathand van ’n kwaai ma – en in die voortdurende visier van vier ewe streng susters – om as ’n stroopsoet seuntjie in die Oos-Karoo mens te word nie.

Toe ek jou spoor onlangs begin sny, het ek deur Burgersdorp geloop tot by ’n plaashek wat ek in my verbeelding moes oopstoot, want Perdeverlies, daar waar jy gebore is, is lank gelede al van die kaart gevee.

Jy het jou kindweesdae kaalvoet in die strate van Burgersdorp en tussen die omliggende ysterklipkoppies omgedraf en vertel van monsterspinnekoppe wat jou gejaag het, eintlik maar net op soek na ’n kolletjie koelte in jou skaduwee. Ek het jou stories geglo, want ek het geweet jy was nie net ’n man van die Woord nie, maar ook ’n man van jou eie woord.

Op agtien het die trein Kaap toe jou met ’n koffer en koekblik op die alombekende stel trappe van die Kweekskool in Stellenbosch afgelaai. Die sewe jaar se klim was steil en daar waar die kerkbeurs krimp, moes jy oor naweke en deur vakansies kole op treine pak vir kos en kontant. Slegs een keer per jaar kon jy op die trein klim vir ’n kort kuiertog na jou Karoo.

Jy het lief geword vir die Kaap en vele verhale vertel van jou en Ma, hand aan hand in die akkerlaning tussen Crozierstraat en die klas, en uiteindelik ook tot aan die bopunt van Kerkstraat, daar waar die klok op ’n Saterdagmiddag vir julle twee sou lui.

Ek onthou jou, Pa. Ek onthou jou in ’n toga, ’n blou safaripak, wit tennisklere en canvas-tekkies. Ek onthou jou in outyds geruite vakansiehemde en in ’n maroen kamerjas met myle op wat terugloop tot lank voor my koms. Ek hoor jou mense seën op ’n Sondagoggend en ek sien jou biddend op ’n berg oorsee. Ek kom weer om die draai en vang jou en die kinders uit, laggend, kieste vol van verbode wegsteek-lekkergoed. En ek probeer vergeet, maar ek onthou die seer van ons laaste groet. En ek loop die pad in my blinkswart skoolskoene soos ek jou belowe het ek sal.

Vanjaar sou ek jou op Vadersdag wou verras met ’n treinrit van die Kaap na jou Karoo. Die Shosholoza Meyl sou ons neem, hierdie keer dog in “premier class”. Die fynskrif, “Senior fares not offered”, sou ons weinig skeel, want jy sou weer Qwees. Ons sou hertzoggies en melktert uitpak op die knopiesbank en lag. Kort duskant Burgersdorp sou jy afklim en vir oulaas waai. Soos jy wegstap, sou jou skaduwee al langer raak en ek sou weet wanneer ek hom raaktrap, sal daar altyd koelte wees. En ek sou aanry, want ek weet jy sou dit so wou hê.

Hierdie jaar op Vadersdag sal ek weliswaar aan jou en aan pa’s in alle vorms dink – paterfamilias, patriarg, ta, vaar – maar meeste van almal sal ek jou onthou, Pater van Perdeverlies.

Jou meisiekind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.