Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Perchiaan gee hoop vir ander

’n Gru-aanval op haar tien jaar gelede het die 18-jarige Perchiaan Solomons van Darling met beserings soortgelyk aan iemand met serebrale gestremd­heid gelos.

“Die pad tot hier toe was lank en pynvol,” vertel haar bewoë ma, Hetta, waar sy sit in die huis van Cher Cornelius in Darling terwyl ’n paar goeie feë, beter bekend as die Darling Angels, hul towerstafies oor haar dogter swaai ter voorbereiding vir haar afskeidsgeleentheid by die Robin Hill spesiale skool in Atlantis wat Donderdagaand (21 November) plaasgevind het.

Perchiaan kon ná die aanval, waar sy onder meer ontvoer en onsedelik aange­rand is, nie praat nie. ’n Pediatriese neuroloog, wat destyds in die hofsaak getuig het, het aangevoer die sentrale deel van die brein wat noodsaaklik is vir taal- en kommunikasie, is erg beskadig weens die intensiteit waarmee sy verwurg is.

Sy het sedertdien goeie vordering gemaak en kan al praat, maar is met breinskade gelos en kan nie op haar eie loop nie.

“Dokters het destyds gesê sy het ’n 50/50-kans op oorlewing. Dit was aan die begin baie moeilik. Dit was ’n lang pad tot hier en is nog altyd, maar ons kom daar deur. Ek het nooit gedink ons sal tot hier kom nie, so ek is dankbaar daar­voor,” het ’n hartseer Hetta vertel.

Sy sê haar dogter het ook oor die jare baie vrae gehad en elke dag het maar sy uitdagings.

“Sy raak nog baie gefrustreerd en vra hoekom dit met haar moes gebeur, maar sy het ’n baie sterk persoonlikheid.”

Toe Cher vroeër vanjaar vir Hetta by ’n vriendin ontmoet en Perchiaan se tragiese verhaal hoor, het dit haar aange­gryp. Sy het daarmee geworstel en wou graag iets doen om weer bietjie hoop en vreugde te bring in die gesin se lewe. Toe sy hoor van die afskeidsgeselligheid wat die skool vir die leerders in hul laaste jaar hou het sy gedink dit sal die ideale geleentheid wees om die aand vir haar ekstra spesiaal te maak.

Sy het uitgereik na mense in die dorp en sonder om te huiwer het mense hul hulp aangebied en tyd opgeoffer om haar op haar spesiale dag mooi te maak.

Cher het haar eie trourok aangebied vir Perchiaan om die aand te dra met plaaslike rokmaker, Cathleen’s Dressmaking, wat haar dienste gratis aangebied het om die rok te omskep in Perchiaan se droomrok. Wendie’s Nails het haar naels mooigemaak, Make-up Zone het gesorg vir haar grimering en Style by Lucinda het verseker dat haar hare gereed is vir die groot aand. Ander rolspelers wat ’n bydra gemaak het, was Darling Brew wat ’n koek geskenk het, Steve’s Electrical wat haar skoene geborg het, Duckitt Nursaries vir haar blom-armband (“corsage”), Sparkling Hire, Orchid Creations, Jonkers-transport vir die motor, Angelique Rosant wat haar foto’s geneem het, Lumber City in Upington wat ’n geldelike donasie gemaak het asook die groep van Darling Angels, wat ook gehelp het om die dag moontlik te maak. Daar was ook eet- en drinkgoedjies uitgesit om haar op ’n hoë noot na haar afskeid af te sien.

“Haar storie het my net aangegryp en die persoon wie sy is inspireer my. Dis my passie om met kinders te werk en ek hoop om in die toekoms verder betrokke te raak by projekte en so terug te gee aan die gemeenskap.”

Op ’n vraag oor waarna sy die meeste uitsien, het ’n skamerige Perchiaan vinnig laat hoor, “die koek”.

Sy het dit ook geniet om haar naels te laat doen en gesê haar rok is baie mooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.