Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Piketberg se eie akteur praat uit

’n Oudleerder aan Hoërskool Piket­berg is vinnig besig om bekendheid in die vermaaklikheidsbedryf te verwerf.

Maar vir die 25-jarige Eldon van der Merwe spruit sy passie vir drama nie om roem na te jaag nie, maar eerder om ’n boodskap van hoop en genesing aan mense te bring.

Televisiekykers sal Eldon herken vir sy rol as Curtley Neethling in die nuwe seisoen van die gewilde Afrikaanse telenovela, Arendsvlei.

Eldon, wat in 2012 gematrikuleer het, het sy eerste professionele rol in 2007 vertolk toe hy Tollie Komoetie in die verhoogproduksie, Fiela se Kind, gespeel het.

“My voorliefde en passie vir drama het ek ongetwyfeld by my pa gekry wat as smous taamlik bekend geword het in Piketberg.

“Deur mense na sy stalletjie te lok, het hy gereeld gesorg vir vermaak. As kind het ek reeds met die motivering van my ouers en onderwysers gedigte voorgedra by plaaslike geleenthede soos eisteddfod en taalkompetisies,” vertel hy oor wat hom inspireer het om dié bedryf te betree.

Ná verskeie rolle en geleenthede in die bedryf is hy genooi om vir David Kramer se musiekblyspel, Danger in the Dark, ’n oudisie af te lê. Net ’n week later het sy agent hom vir die hoeveelste keer genader om ook vir Arendsvlei te oudisie.

“Die telenovela het teen daardie tyd groot opskudding veroorsaak, maar ook diep in my hart gekruip en ek was vasberade om my oudisie met oorgawe uit te voer. Vir die geleentheid om met David Kramer te werk, was ek ook vasbeslote om ’n sukses van my oudisie te maak – dit nadat ek reeds ’n paar keer afgewys is vir sy vorige produksies. Weke later het ek van albei produksies gehoor en onmiddellik het die harde werk begin.”

Oor sy rol in Arendsvlei sê hy sy karakter is ’n graad 11-leerder wat nuut by die skool aansluit nadat sy vorige skool bankrot verklaar is.

“Dis ’n groot uitdaging omdat ek myself weer in die skoolbanke moet inleef. Ek geniet dit op die stel en besef elke dag die belangrikheid van elke persoon se rol aangesien dit so ’n groot geselskap is en alles volgens skedule moet verloop.”

Buiten dié twee groot projekte wat hom besig hou, werk hy ook hard aan die verhoogproduksie, In Slavenhuis 39 wat volgende jaar by die Woordfees in Stellenbosch op die planke sal wees.

Vra jy hom oor sy ervaring van tea­ter teenoor televisie, sê hy met teater het jy net een geleentheid om die gehoor se harte te wen.

“Die verskil is eenvoudig. In televisie word dieselfde toneel oor en oor geskiet om seker te maak die beste opname word uitgesaai. In teater is daar meer druk van die gehoor wat die akteur dwing om reeds met die eerste slag sy geleenthede te benut.”

Eldon sê hy sal graag in die toekoms ’n rol wil speel wat “geluk uitbeeld onder mense wat met die minste in die lewe moet klaar kom. Mense wat daagliks misgekyk en mishandel word.”

Sy raad aan jong talent wat die bedryf wil betree, is om uithouvermoë te hê en nie ander te oordeel nie.

“Neem verantwoordelikheid vir elke rol en storie wat vertel moet word omdat dit die potensiaal het om genesing te bring aan baie ander mense. Moet dit ook nie najaag met die hoop om beroemd te word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.