Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Piketberger wen vet prys

Die Piketberger Herbst van der Merwe is vanjaar se ontvanger van die Hortgro Science/Daan Strydom-prys vir die beste finalejaarstudent in hortologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Dié aankondiging is by die Hortgro Science-tegniese simposium, wat vroeër die maand in Somerset-Wes gehou is, gedoen.

Van der Merwe het sy BSc Agric-graad in plant- en grondwetenskappe verlede jaar cum laude behaal. Sy hoofvakke was grondkunde en hortologie.

Hy volg in die voetspore van sy broer, CP, wat in 2016 ook die prys as beste hortologiestudent ontvang het.

Volgens dr. Lynn Hoffman, voorsitter van die departement hortologie, is Van der Merwe ’n besonderse student wat sy studies met passie en ’n oog vir detail aanpak.

Van der Merwe het vanjaar met sy MSc-studies in grondkunde onder leiding van dr. Eduard Hoffman van die US departement grondkunde in die fakulteit agriwetenskappe begin. Hy sal die invloed van deurlopende lae vloei-drupbesproeiing op sitrusbome van nader bekyk. Meer spesifiek sal hy bestudeer hoe waterverspreiding in die grond lyk nadat ’n boord vir agt tot twaalf uur per dag lae vloei-drupbesproeiing geniet. Hy sal ook die uitwerking daarvan bekyk op hoe sitrusbome se wortels groei en ondergronds versprei.

“Die meeste studies in hierdie verband is slegs op agronomiese eenjarige gewasse soos tamaties en koring gedoen,” vertel hy.

Benewens sy akademiese belangstellings is Van der Merwe ook ’n kranige middelafstandatleet. Hy was in sy voorgraadse jare ’n inwoner van Huis Marais. Hy het in 2014 aan Hoërskool Piketberg as hoofseun en Dux-leerder gematrikuleer en is ’n oudleerder van Laerskool Eendekuil in die Swartland.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.