Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaaslike Bok maak dorp trots

Hy is die land se beste rugbyspeler, maar vir sy ouers bly Pieter-Steph du Toit (26) hul plat op die aarde, nederige seun met die ongelooflike wilskrag.

Die oudleerder van Hoërskool Swartland is Donderdag 7 Februarie as SA Rugby se speler van die jaar aangewys – ’n eerbewys wat hom vir die tweede keer in drie jaar toeval.

“Ek moes die trane sluk. Dit was ’n groot oomblik,” vertel pa Pieter van die plaas Kloovenburg in die Riebeek-vallei oor die oomblik wat sy seun hom met die nuus gebel het.

Die voorspeler het dié seisoen as flank en slot sy veelsydigheid op die veld bewys.

“Hy is seker die speler wat die meeste rondgeskuif is en vir elke posisie moet jy jou spelpatroon verander, maar hy is topfiks.”

Pieter probeer so veel as moontlik van sy seuns se wedstryde bywoon. Pieter-Steph se jonger broer, Johan is ’n Stormers-voorspeler.

“Toe ons die seuns destyds laat doop het, het ek en my vrou Annalene ooreengekom dat sy die tennis en atletiek sal bywoon en ek die rugby. Daardie tyd was sy baie besig, maar ek dink ek kan met sekerheid sê ek woon nou die meeste rugbywedstryde by,” sê Pieter.

Hy het aan die begin doodstil langs die kantlyn gesit.

“My vrou was nog altyd die een wat sal skree en toejuig, maar ek moet sê ek het deesdae definitief ’n meer emosionele reaksie wanneer ek die spel kyk.”

’n Wedstryd wat vir Pieter beslis uitgestaan het die afgelope seisoen was die Springbokke se wen teen Nieu-Seeland op tuisbodem.

“Dit was definitief ’n emosionele een, nie net vir my nie, maar vir rugbyliefhebbers oor die land heen. Jy kon voel hoe die nasie verenig. Mense het in die dorp se strate my hand kom skud en ’n tannie het my kom omhels. Dit het my net weereens laat besef hoe belangrik sport is om ’n nasie – wit, piek, geel, swart – bymekaar te bring.”

Pieter sê hy probeer hom nie steur aan kommentaar – goed of sleg – oor sy seun se spel nie.

“Ek het gelukkig in ’n huis grootge­word waar my pa ook ’n bekende rugby­speler was en ons het daardie tyd al geleer hoe om positiewe en negatiewe kommentaar te hanteer. Dit bly jou eie besluit wat jy met die negatiewe kommentaar gaan maak.”

Pieter probeer ook om dié sentiment aan sy vier seuns oor te dra.

Hoewel hy ’n groot liefde vir die spel het en soveel as moontlik wedstryde probeer bywoon, maak Pieter ’n punt daarvan om nie in te meng in sy seun se spel nie.

“Ons praat bitter min oor rugby, hulle kry klaar so baie raad van die afrigters af dat ek net ’n ondersteu­nende rol wil speel. Ek plaas niks druk op hom nie. Ons het ’n familiegroep waarop ons vir mekaar boodskappe stuur en dan sal ek net voor ’n wedstryd vir hom sê hy moet die wedstryd geniet en sy beste doen. Na die tyd sal ek vir hom sê hy het mooi gespeel, maar ek sal nooit iets negatiefs sê nie.”

Maar wanneer jy die beste speler in die land is, doen jy duidelik iets reg.

“Pieter-Steph het ’n ongelooflike wilskrag – al my seuns het,” sê Pieter. “Hy speel met oorgawe en doen net sy beste.”

Ten spyte van sy sukses, sê Pieter: “Hy is ’n baie plat op die aarde mens. Kyk, ek het vier seuns en ek is eintlik maar die vyfde seun. Ons hou daarvan om mekaar uit te haal wanneer ons almal saam is, en hou so mekaar se voete plat op die aarde. Maar hy is ’n baie nederige persoon en ’n voorbeeld vir die jonger geslag.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.