Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seun kry rol in bekende ‘Fiela’

Hy volg in sy ouboeta se spore, vertel Leighmen Marshall (10) wat verlede maand ’n rol losgeslaan het in die nuwe filmproduksie, Fiela se Kind.

Leighmen, ’n gr. 4-leerder aan St Thomas Primêre skool in Wesbank, is die gelukkige seun wat gekies is uit honderde leerders van die Wes-Kaap om die rol van Dawid Komoetie jnr., een van Fiela se kinders, in die produksie te speel.

Fiela se Kind, in 1985 deur Dalene Matthee geskryf, is die beste Afrikaanse boekverkoper ooit. Die verhaal speel in die negentiende eeu in die Knysnawoud af en vertel die verhaal van ’n Kaapse bruin vrou, Fiela, en haar familie wat ’n verlate wit kind aanneem. In 1988 is die boek omskep in ’n rolprent met Shaleen Surtie-Richards as Fiela.

“Ek het altyd gedroom om op een of ander manier beroemd te word. Ek het nie veel moeite gedoen om dit te laat gebeur nie, maar toe my broer Graeme Watson (17) in Mei in Suidooster (die gewilde sepie op kykNet) verskyn het, het ek gedink as hy dit kan doen, so kan ek ook,” sê hy.

Leighmen se onderwyser Liezel Farao verduidelik hoe dit alles gebeur het.

“Die Film Factory, ’n rolprentproduksiemaatskappy in Johannesburg, het ons skool in Maart gekontak om vir leerlinge te vra wat vir rolle in die rolprentproduksie van Fiela se kind wou oudisie,” sê sy.

Liezel verduidelik verder uit die vyf leerders wat sy vir die oudisies geneem het, is Leighmen gevra om ’n tweede oudisie te doen. En hierna is hy gekies om die rol van Dawid te vertolk.

“Skeppende kuns is een van sy skoolvakke en hy het ook ’n goeie begrip vir Afrikaans vir iemand so jonk soos hy.

“Dis een van die redes waarom hy in mondeling uitblink,” sê Liezel.

Leighmen, wat eintlik graag die rol van Tollie Komoetie wou vertolk, sê hy is baie opgewonde om die rol van Dawid Komoetie te vertolk.

Sy ma, Jolene Peens, sê sy was oorstelp toe sy die kennisgewing ontvang dat Leighmen inderdaad gekies is vir ’n rol in die produksie.

Hoewel hy opgewonde is oor die geleentheid, konsentreer Leighmen tans op sy skoolwerk en al sy take en eksamens moet afgehandel wees voordat verfilming van die rolprent van 19 - 26 Augustus begin.

Dit is tans onbekend waar die fliek geskiet sal word of wie die rol van Fiela sal speel.

“Ek sien uit om baie te leer van my mede-akteurs asook om onder die regisseur Brad Innes te werk.

“Ek wil hierdie geleentheid gebruik om so veel as moontlik my kennis oor die bedryf te verbreed asook om soveel pret te hê as moontlik,” sê Leighmen.

Hy beoog om ná skool drama aan die Universiteit Stellenbosch te studeer waarna hy die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf wil aanpak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.