Die jaarlikse Wesbank Super Spar Castle se sewestoernooi wat jaarliks ’n rekordgetal toeskouers na Malmesbury lok, vind weer die naweek van 24 tot 25 Januarie plaas.
Klubs oor die hele land heen sal vanjaar in Malmesbury bymekaarkom en daar heers ’n groot opgewondenheid omdat spanne van Namibië en Pretoria (Blou Bulle) ook gaan deelneem. Die Blue Quins van Pretoria spog met verskeie sewessterre en is deel van die rugbyklub, Pretoria Harlequins.
Die Kudu-klub van Namibië sal ook die Namibiese vlag wil hooghou by dié toernooi. Die spanne sal by gastehuise en die plaaslike Schoonspruit Sekondêr se koshuis tuisgaan en gaan al van die Donderdag (23 Januarie) in Malmesbury aankom.
Meer as 50 klubs word by dié toernooi verwag.
Die bestuur van Wesbank-rugbyklub het reeds die prysgeld van die toernooi na R50 000 verhoog. Behalwe die Namibiërs het die Gold Cup-kampioen, Durbell, asook die Varsity-beker se seweswenners en Maties deelname bevestig. Die Boland se spogklubs in die Grootuitdaagbeker, Roses, Hillcrest en Robertson Town sal ook graag hulle stempel wil afdruk.
Die plaaslike Wesbank Blitz-span was ook die wenner van die afgelope naweek se Hillcrest-sewestoernooi wat in Paarl gehou is en wil graag weer voor sy tuisskare sy titel verdedig.
Die bestuur belowe om hierdie jaar ’n beter en groter toernooi dorp toe te bring.
Super Spar, Castle Lager (SAB) asook Coke sal weer die hoofborge wees. Streng veiligheidsmaatreëls sal geld op die dag en geen drank sal toegelaat word nie.