Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Speelkasteel se deure maak einde van maand toe

Die ACVV se Speelkasteel- en nasorg in Malmesbury sluit einde van die maand sy deure.

Dít weens die vernietige finansiële impak wat die Covid-19-pandemie teweegge­bring het.

Die ACVV-voorsitter, Marijke Crafford, sê met kleuterskole wat vroeër die maand die groenlig gegee is om te heropen het slegs 15 ouers van die kleuterskool en 28 van die nasorg aangedui dat hulle hul kinders sal terugstuur.

Sy sê dit is dus finansieel onmoontlik om die deure oop te hou.

“Toe die sluiting van skole middel Maart aangekondig is, het die ACVV-bestuur die besluit geneem om na ons personeel om te sien deur steeds hulle volle salaris te betaal vir die tydperk wat ons toe sou wees. “Niemand kon voorsien dat dit bykans vier maande sou neem voor ’n datum vir heropening verkry word nie. Natuurlik het baie ouers nie aangehou om hulle maandelikse geld te betaal nie, wat te verstane is en ons bedank opreg diegene wat steeds aangehou het om ons te ondersteun deur hierdie geweldige moeilike tyd,” sê Crafford.

Sy sê soos die tyd aangestap het, het dit al hoe duideliker geword dat dit onvolhoubaar gaan wees om die skool se deure te heropen.

“Teen einde Mei, met geen heropeningsdatum in sig en ouers wat self sukkel om by te hou met betalings, het dit duidelik geword dat die heropening onder streng Covid-19-protokolle bykans onhaalbaar gaan wees en dat die finansiële volhoubaarheid van hierdie ondernemings in gedrang is. Onder normale omstandighede sou ons met geldinsamelingsprojekte alles in die stryd gewerp het om finansies te help klop, maar weens inperkingsomstandig­hede was dit bykans onmoontlik as in ag geneem word dat die meerderheid van die ACVV-vrywilligers ongelukkig in ’n hoëriskogroep vir Covid-19 val. Ons moes egter wag totdat die bestuur weer kon vergader voor ’n finale besluit geneem kon word.”

Die Speelkasteel het intussen met die bestuur van Better Beginnings College, ’n privaat skool vir gr.R tot gr.4-leerders, onderhandel om die nege kinders in die ouderdomsgroep vir 3 tot 6, wie se ouers aangedui het dat hulle die kinders wil terugstuur skool toe, solank in te neem.

Crafford verduidelik: “Die ACVV-bestuur het heelwat opsies oorweeg vir die nasorg en Speelkasteel. Elize Weyers van Better Beginnings College het ’n aantal jare gelede reeds ’n voorstel vir die bedryf van Speelkasteel ingedien en as gevolg daarvan het die bestuur gevoel dat sy eerste opsie moet kry. Die naam gaan steeds Speelkasteel bly en gaan slegs kinders vanaf drie jaar inneem. Geen besluit is nog geneem vir die nasorg-gebou nie, maar ’n aantal voorstelle is reeds ontvang en sal by die volgende bestuursvergadering bespreek word.”

Opknappings word ook tans aan die nuwe Speelkasteel gedoen wat op 1 Augustus onder die bestuur van Better Beginnings College vir drie tot ses jaar gaan oopmaak. Die nuwe Speelkasteel sal tweetalig wees en reg langs die privaat skool in PG Nelsonstraat geleë wees.

“Ons bly steeds in gesprek met ouers van kinders jonger as drie en dié van die nasorg wat aangedui het dat hulle graag wil terug kom om gebruik te maak van die kennistydperk van drie maande wat ons volgens wet aan moet voldoen (Julie, Augustus, September). Indien datums vir heropening van hierdie groepe binne hierdie tydperk val, sal reëlings getref word.

“Aangesien die geboue steeds die eiendom van ACVV-Malmesbury bly, sal enige ooreenkomste oor die verhuur van die geboue gereeld hersien word indien die ACVV- Malmesbury voel dat daar ’n behoefte is om weer hierdie ondernemings oop te maak,” sê Crafford.

Speelkasteel is in 1990 in Lowry Colestraat gebou en die nasorg-gebou in Albaniestraat is in 2000 in gebruik geneem.

Voor die algehele inperking het die ACVV-Speelkasteel ongeveer 65 kinders en die nasorg 53 kinders in hulle sorg gehad.

“Die bestuur wil graag die gemeenskap van Malmesbury bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Ons gaan steeds voort met ons maatskaplike dienste by die tak asook die satellietstasie in Abbotsdale, die dienssentrum vir ouerpersone, Amandelrug-aftreeoord en Huis Aandskemering waaronder Huis Thea van Niekerk,” aldus Crafford. .Vir enige navrae stuur e-pos aan acvvmalmesburyvoorsitter@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.