Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Spekbome hou baie voordele in

Spekboom en #Spekboomchallenge is beslis dié jaar se gonswoorde. Só ook klimaatsverandering en aardverwarming.

Volgens kenners is klimaats­verande­ring nie die verskynsel wanneer die weer “mal” word nie. Nee, dis ons as mens wat ’n koolstofvoetspoor agterlaat. Ons leefstyl het ’n direkte uitwerking op die koolstofvlakke in die atmosfeer en die hoë vlakke van koolstof is ver­ant­woordelik vir klimaatsverandering en aardverwarming.

Kan ons iets hieraan doen? Belang­riker nog, het ons nog genoeg tyd om iets hieraan te doen?

Die goeie nuus is dat ons wel iets kan doen mits almal ’n daadwerklike poging aanwend om Moeder Aarde ’n gesonder plek te maak. Hoe kan ons dit doen?

Deur spekbome te plant. Die spek­boom (portulacaria afra) is ’n inheemse vetplant en kom veral in die Oos-Kaap voor. Dit is ’n geharde, aanpasbare plant wat omtrent op enige plek sal aard. Dit het ’n kenmerkende rooibruin stam en klein, vlesige, ronde blare. Dit is juis dié blare wat koolstof­dioksied uit die atmosfeer opneem en in suurstof verander.

Daar word na die reënwoud in die Amasone as die “longe van die aarde” verwys, maar ’n gesonde spekboom­plantasie is weens die koolstofse­kwestrasie tien keer meer doeltreffend as dié van die reënwoud en benodig boonop slegs die helfte van die water as meeste ander plante.

Die #Spekboomchallenge daag almal uit om hierdie jaar ten minste tien spek­bome te plant.

Die Nel-familie van Boplaas in Calitzdorp beoog om teen 2025 ’n miljoen spekbome te plant. Die Groot Labirint van Afrika gaan net buite Klapmuts ’n spekboom-labirint van 230 mx230 m aanlê. Stad Kaapstad beoog om 5 000 spekbome te plant. ’n Jong laerskoolseun van KwaZulu-Natal bring al sy vrye tyd deur om spekboom­steggies te maak en te plant.

’n Mens hoef nie ten duurste te betaal vir plantjies nie. Vra vir vriende of bure vir ’n paar steggies en druk hulle in die grond. ’n Huurhuis of woonstel is geen verskoning om nie ook aan die uitdaging deel te neem nie. Plant spekbome in potte. Hulle aard ook goed binneshuis en is uiters geskik vir bonsai-boompies.

Spekbome is droogtebestand en beno­dig baie min water. Hulle is vuurbe­stand, is geskik as heiningplante, is ’n goeie voergewas in droër dele en help om gronderosie te voorkom. In die somer het hulle die allermooiste pienk blomme wat bye lok. Die blare is eetbaar en kan op ’n verskeidenheid maniere gebruik word. Die blare bevat ook baie vitamien C en kan as medisyne gebruik word.

Sam van Straaten van Hillside-plaas buite Caledon vertel hy het tussen 150 en 200 spekbome op sy plaas. Van Straaten het tipe- 2 diabetes en eet al geruime tyd soggens en saans so vyf of ses spekboomblaartjies. Op die Gazette se vraag of sy geneesheer hiervan weet, het hy geantwoord: “Ja, hy weet hier­van, máár ek gebruik dit nie as ’n plaasvervanger vir my voorgeskrewe medisyne nie. Dit wil voorkom of my bloeddruk ook meer gestabiliseer het.” Hy is só beïndruk met spekbome dat hy dit spectacular bome noem. (Die Gazette wil dit duidelik stel dat geen natuurlike middels as plaasver­vangers vir medi­syne gebruik moet word nie.)

Die koerant moedig al sy lesers aan om aan hierdie uitdaging deel te neem. Bel Mitzi Buys by 076 543 0261 en deel jou verhaal oor die uitdaging met haar. • Mitzi sal ook vir die eerste 20 lesers wat haar kontak, elk ’n spekboomsteggie present gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.