Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Spesiale hof maak in Bredasdorp oop

“Suid-Afrika het een van die hoogste syfers van geweld teen vroue en kinders.”

Só het die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Johan Jeffery, Vrydag 7 Februarie in Bredas­dorp gesê.

“Daar word elke drie uur ’n vrou iewers in ons land vermoor en een uit vyf vroue in ons land was al slagoffers van geslagsgeweld. Almal van ons wat vanoggend hier is, weet van die hartseer wat families en die mense van Bredas­dorp deurgemaak het met die dood van onder andere Anene Booysen, Kayde Williams, Elna Jaftha, Sulnita Manho, Xolelwa Vuma, Jodine Pieters en nou onlangs die dood van Delvina Europa.”

Op Vrydag is Suid-Afrika se 94ste spesiale hof vir seksuele misdrywe tydens ’n spesiale geleentheid in Bredas­dorp bekendgestel. Dié geleentheid is bygewoon deur rolspelers van heinde en ver – selfs van Pretoria. Na afloop van die inligtingsessie in die landdros­kan­toor, kon die gaste die nuwe hofgeriewe van nader besigtig voordat daar aanbe­weeg is na die NG kerksaal waar ander plaaslike rolspelers en lede van die gemeenskap gewag het.

Die KAM-raadslid, Eve Marthinus, het as programdirekteur opgetree terwyl die ODM-raadslid, Helen Coetzee, die gaste verwelkom het. Sy het ook Jeffery verwelkom.

Nadat ’n plaaslike leraar, ds. Jaco Botha, die verrigtinge geopen het, het advokaat Praise Kambula, gemoeid met die bevordering van die regte van kwesbare groepe, ’n kort oorsig gegee van die verskillende geriewe waaroor die nuwe hof gaan beskik en van verskillende spesiale dienste wat daar aan slagoffers van gesins- of seksuele geweldsmisdade en hulle gesinne gebied sal word. Boodskappe van ondersteuning is deur Mzukisi Gaba en advokaat Nicolette Bell oorgedra, onderskeidelik van die departement van maatskaplike ontwikkeling en die nasionale vervol­gingsgesag en deur dr. James Lekhu­kleni in sy hoedanigheid as waarne­mende president van die streekshof in Kaapstad.

Jeffery het tydens sy spreekbeurt daarop gewys dat die totstandkoming van hierdie spesiale howe in ooreen­stemming is met die regering se nasionale strategiese plan en met die onderneming wat president Cyril Ramaphosa in September 2019 gegee het toe hy aangekondig het dat die regering alles in die stryd gaan werp om geslags­geweld te bekamp. Nóg 10 van hierdie spesiale howe, wat almal op streeksvlak diens lewer, word volgens hom tans opgegradeer en sal na verwagting teen die einde van 2020-’21 gereed wees.

Jeffery het die hoop uitgespreek dat alle rolspelers en alle gemeenskapslede van Bredasdorp hande sal vat en sal saamwerk en dat die hof, wat Vrydag in Bredasdorp bekendgestel is, gesien sal word as “ ’n maatreël om vroue en kinders te help”.

Met verwysing na verskillende kwel­punte wat aan die einde van die verrig­tinge deur vyf lede van die gemeenskap geopper is, het die minister sy voorneme bevestig om binnekort na Bredasdorp terug te keer om saam met inwoners na oplossings te soek.

KAM se uitvoerende onderburge­meester, Zukiswa Tonisi, het tydens haar spreekbeurt aan die einde van die verrigtinge die adjunkminister verseker dat die munisipaliteit ook sedert die totstandkoming van die plaaslike “veilige tuiste” die ekstra myl saam met die rolspelers gestap het. Volgens haar was die begroting van die “Safe House” in 2016 maar net R10 000. “Vandag is die begroting R500 000,” het sy gesê.

Sy het die minister ook ingelig aangaande reëlings met die oog op ’n gespreksgeleentheid op 28 Maart waarby alle rolspelers betrek gaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.