Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Statistieke oor botsings skokkend

Jaarliks word Wêrelddag van herinnering vir slagoffers van padongelukke op die derde Sondag in November herdenk.

Hierdie jaar is die dag, wat gehou word met die doel om die miljoene mense wat op paaie wêreldwyd in padongelukke sterf of beseer is te onthou, 17 November herdenk.

Terselfdertyd is dit ook ’n dag om nooddienste te bedank vir hul onbaatsugtige werk en te besin oor die impak wat hierdie tragedies op slagoffers en hul families het.

Ter herdenking aan dié dag, het Swartland Gazette met ’n inwoner van Malmesbury, wat verkies om anoniem te bly, gesels oor haar eie ervaring ná ’n tragiese botsing die lewe van haar eggenoot geëis het.

Sy vertel dat sy drie jaar gelede, op ’n Saterdagmiddag, saam met haar man en twee vriende uit Stellenbosch, naby die Khayamandi-aansluiting gery het. Die pad was besig. Net ná die 60 km/h-kamera het ’n vrou in ’n minibus, met twee kinders in hul karstoeltjies, beheer oor haar voertuig verloor en teen hul motor gebots. Die motor het gerol en op sy dak geland.

“Dit het vinnig gebeur, maar ek kan elke oomblik onthou. Ek het nog so rondgekyk na die graffiti op die mure en skielik het ek net die harde slag gehoor – toe is dit verby. Ek onthou net dat ek my kop met die eerste slag gegryp het. Toe die motor tot stilstand gekom het, het ek begin rondkyk en gesien dat ons twee vriende in die voorste sitplekke onderstebo aan hulle sitplekgordels hang en hulself probeer los maak. Toe ek regs kyk, sien ek my man lê doodstil – toe weet ek.”

Sy was daarna vir ’n week in die hospitaal met ’n gebreekte bladbeen en vertel dat die werklikheid van die botsing nog besig was om by haar in te sink. Sy verduidelik dat sy daarna deur die fases van herstel gegaan het.

“Ek is deur skok, hartseer en kwaad en eers na dié fases het die aanvaar­ding gekom.”

Sy noem ook dat haar Christelike geloof haar baie met die herstelproses gehelp het.

Haar raad aan ander slagoffers is die volgende: “Omring jou met familie en vriende wat jou ondersteun. Moenie te veel druk op jouself plaas nie. Aan­vaar hulp en vra vir hulp. Moenie dink jy is sterk nie, want daar is mense wat kan help, al is dit met klein goedjies”.

Die hofsaak, ná dié ongeluk, is na drie jaar steeds nie afgehandel nie.

Haar hoop is om mense bewus te maak oor die belangrikheid om verantwoordelik te bestuur en altyd oplettend te wees.

V Volgens die wêreldgesondheidsor­ganisie se 2018 wêreldwye padongelukverslag is 14 507 padsterftes vir die jaar aangeteken.

In die padongelukfonds se 2018-’19-jaarverslag het die padongelukfonds ’n totaal van R42,6 miljoen aan eise vir onder meer algemene skade, verlies aan inkomste, verlies aan ondersteuning en mediese vergoeding uitbetaal – ’n styging van R8 miljoen sedert die vorige boekjaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.