Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stories help kinders

’n Geselsie tussen twee ma’s in die pannekoek-ry by ’n laerskoolsportdag het geboorte gegee aan die ontstaan van die eerste kinderjoernaal wat onlangs vrygestel is.

Chantel Griesel, ’n arbeidsterapeut van Malmesbury, en die bekroonde aktrise en kinderboekskrywer Milan Murray het onlangs die My Storie Joernaal vrygestel wat daarop gemik is om emosionele ondersteuning aan kinders tussen ses en 13 jaar oud te bied.

Milan vertel sy het sowat twee jaar gelede ’n behoefte aan emosionele ondersteuning by haar eie twee laerskoolkinders raakgesien en besef klem word nie juis op die emosionele ontwikkeling van hierdie ouderdomsgroep gelê nie.

Sy meen terwyl die belangrikheid van die vroeë ontwikkelingsfase (tussen geboorte en vyf jaar) deur kenners en produkontwikkelaars benadruk word, was dit vir haar duidelik dat ouers en ook die groter gemeenskapstelsels ’n bietjie slap lê as dit by die ses-tot-13-jaar-ouderdomsgroep kom.

Sy het in ’n navorsingstydperk oor ses maande by sielkundiges, arbeidsterapeute en spelterapeute aangeklop om te hoor wat die emosionele behoeftes vir hierdie ouderdomsgroep is, en hoe ’n ouer geestesgesondheid kan ondersteun.

Só is die idee vir die My Story Tribe-platform, waarvan die kinderjoernaal die eerste produk is, gebore.

Die platform is gemik op vier gewoontes: self-refleksie, kuns as terapie, beweging as terapie en meditasie.

“Vir elkeen van hierdie ouderdomme tussen ses en 13 word die materiaal en programme rakende hierdie gewoontes ouderdomspesifiek aangebied. Ons My Storie Joernaal is byvoorbeeld saamgestel met die neurologiese en emosionele ontwikkelingsfase van die ses-tot-10-jarige groep in gedagte,” verduidelik Milan.

Sy voeg by: “Natuurlik is selfs kinders van dieselfde ouderdom op verskillende vlakke van groei, maar ons gebruik die basiese algemeen aanvaarde navorsing om die inhoud te laat ooreenstem met die grondslagfase-grade. ’n Sesjarige kind sal dus meer geneig wees om net die vyf groot emosies te identifiseer, waar die 12-jarige reeds fyner nuanses van daardie emosies kan herken. Ons meditasie-fokusse is byvoorbeeld óf gerig op eksamen-angs vir die groter kinders, of om jonger kinders te help wat sukkel om te slaap. Ons het deurgaans die hele ses-tot-13-jarige groep in gedagte gehou en gekyk wat die uitdagings is wat in die pad van hul emosionele veerkragtigheid en geestesgesondheid staan.”

Die kinderjoernaal help kinders van 'n jong ouderdom om hul emosies te verwerk en sin te maak daarvan.

Chantel, wat saam met haar gesin in Malmesbury woon, is self ’n ma van drie seuns en werk as arbeidsterapeut by Nicolet Bedeker Arbeidsterapeute in Durbanville met talle laerskoolkinders, waaronder CPM in Malmesbury.

Sy en Milan het mekaar eendag by ’n sportdag ontmoet terwyl albei in die pannekoek-ry op hul bestelling gewag het. Die twee het toe aan die gesels geraak. Chantel sê sy wou eintlik net vir Milan vertel dat sy haar ander kinderboeke geniet, maar een gesprek het gelei tot die volgende en voor sy haar oë kon uitvee, is sy genader om as arbeidsterapeut uit ’n terapeutiese oogpunt by die samestelling van ’n kinderjoernaal betrokke te raak.
Sy vertel sy het baie navorsing gaan doen oor joernale, maar kon geen vind oor self-refleksie op kinders uit daardie ouderdomsgroep nie.
Die kinderjoernaal se vertrekpunt was dus om ’n geestesgesondheidsplatform te skep vir kinders waar hulle op ’n selfontdekkingsreis kan gaan en hul plek in die samelewing kan identifiseer, asook wat dit is wat hulle uniek maak.

Chantel sê hulle het tot die besef gekom dat mense as ouers soveel energie tot op die ouderdom van vyf insit, maar wanneer kinders daardie eerste dag by die skool afgelaai word, ontwikkel die gevoel van “nou is my werk klaar”.

Sy sê kinders beweeg dan juis in ’n baie sensitiewe tydperk van hul groeiontwikkeling in, veral met die druk wat deesdae op kinders geplaas word om te presteer asook die invloed van sosiale media en die algemene probleem van boelies.

“Die idee is dus om hulle dan te help om met hulself te assosieer en te onderskei tussen wat my ouers wil hê, wat my onderwysers wil hê, wat my maats wil hê en wat ek wil hê.

“Ons verloor soms ons kinders in daardie space.”
Die kinderjoernaal bied hulle dus die geleentheid om ’n sterk gevoel te kweek van wie hulle is, en wie hulle is te omhels en hulle toe te rus om beter besluite te kan neem.

Hulle het daarom juis die joernaal so interaktief as moontlik probeer maak deur die gebruik van illustrasies (deur Lauren Nel), spesifieke kleurskemas en die vingerafdruk-konsep sodat dit nie net ’n dreigende wit blad is wat kinders in die gesig staar nie.

Die aktiwiteite word vervat in prettige aanwysings om kinders aan te moedig om oor hul emosies te dink en oor hul dag te reflekteer.

“Dit help hulle om hul storie in vier dele op te deel en te identifiseer tussen ‘ek’, ‘my mense’, dat ‘ek’ ’n storie het tot nou, dat die mense in my lewe ook ’n storie het en om ‘my’ storie van môre self te skryf, om te kies hoe jy voel en waaroor jy wil droom. Vir ons gaan dit oor hoop.”
Sy sê die meeste van die aktiwiteite in die kinderjoernaal is dus terapeutiese projeksie-aktiwiteite.
“Dit vervang egter nie terapie nie, maar kan as beginpunt gebruik word en deel van terapie vorm.”
Chantel sê sy het met die heropening van skole tydens die inperking net weer besef watter enorme behoefte kinders het om te praat.

“CPM veral het met die terugkeer van leerders ná die streng inperking ’n sterk fokus op hul welstand geplaas. Ons het van gr.1 tot 7 van klas tot klas gegaan en met kinders gaan praat. Dit was opvallend watter onsekerheid die pandemie by kinders gebring het. Die stiller kinders het nog stiller geraak en dié wat altyd baie gepraat het, het nog meer gepraat. Die kinders het dit behoorlik ingedrink. Ons het dus besluit om ’n ruimte te skep vir hulle om hul emosies te moduleer.

’n Voorbeeld van een van die aktiwiteite in die boek.

“Kinders word van jongs af geleer om nie te voel nie. Die regte maskers wat ons opsit, is om nie emosie te wys of te voice nie. Maar die waarde lê daarin wanneer ek die emosie kan identifiseer en ’n stem daaraan kan gee, want dan het ek beheer daaroor.”
Chantel sê haar droom is dat die joernaal kinders sal bemagtig om sekuriteit binne hul eie identiteit te vind en binne hulself sterk te word.
’n Senior joernaal, wat van Maart af beskikbaar sal wees, is meer gefokus op die 10-tot-13-jarige groep.

“Ons het die lingo, look en feel ’n bietjie aangepas om meer tot hierdie ouderdomsgroep te praat en ons is opgewonde daaroor en veral die potensiaal daarvan. As hulle ná 13 klaarmaak met die tribe, moet die idee van joernaalskrywe natuurlik kom,” sê Chantel.

’n Tweede junior joernaal word vir volgende jaar beplan.
Milan sê: “My grootste behoefte is dat ouers na hulle kinders sal kyk en gelukkige, gebalanseerde individue sal sien. Hierdie platform is gebore uit my eie bekommernis. Ons lê nagte wakker en wonder hoe om ons kinders toe te rus om uitdagings te kan hanteer. Ek hoop vir elke ouer ’n ‘exhale’; ’n rustige wete dat ‘my kind’ al die vaardighede het om die lewe op ’n gesonde manier te kan hanteer.” *Om ’n kinderjoernaal te bestel of nog oor die My Story Tribe te lees, besoek www.themystorytribe.com. Registreer ook vir die gratis tweeweeklikse nuusbrief of win kundige advies in deur ’n vraag aan een van die lys kundiges te stel.

Meer oor:  Kinders  |  Emosies  |  Geestesgesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.