Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Strand-dag eindig in ’n tragedie

Ses boesemvriende van Robertson en Bonnievale het verlede week saam in ’n grubotsing tussen Arniston en Bredasdorp gesterf ná hulle die dag saam op die strand deurgebring het.

Dié ongeluk het Sondag 6 September omstreeks 18:30 op die R316-pad plaasgevind. Lede van die Bredasdorp-polisie is om 19:00 na die toneel ontplooi waar vier mense op slag oorlede is, twee later in die hospitaal gesterf het, twee vir ernstige beserings behandel is en twee vir ligte beserings behandel is.

’n Verloofde paartjie, Stephen Plaatjies (28) van Robertson en Bianca Ross (29) van Bonnievale is ook oorlede. Die ander oorledenes is Ashley Hector (33) en Amos Visagie (30), albei van Robertson, asook Irma Josef (26) en Micayla Windvogel (23) van Bonnievale. Bianca en Micayla was ook familie van mekaar.

Die presiese omstandighede rakende die ongeluk word steeds ondersoek ná ’n saak van strafbare manslag aanhangig gemaak is.

Volgens familielede het hulle die dag saam op die strand deurgebring en uitgesien na die kuier. Hulle het met ’n Toyota Quantum-minibus gery.

Daar was geen ander voer­tuie in die botsing betrokke nie en dit blyk of die minibus gerol het.

Die families en gesinne van dié ses wat verlede week saam in ’n minibus gesterf het, is hartseer oor die stories wat na hul dood op sosiale media versprei is.

“Ons moes eerstens op sosiale media uitvind dat daar ’n ongeluk plaasgevind het. Foto’s is met ons gedeel op groepe en Facebook-groepe waar ons duidelik kon sien dat dit die minibus is waarmee hulle daardie dag gery het. Daar was ook foto’s wat gestuur is en gedeel is waar van die oorledenes – ons kinders – op is. Wat die seerste gemaak het, was die Facebook-groepe wat stories gedeel het van ’n beweerde messtekery en geveg tussen mekaar. Mense is onsensitief,” vertel die Plaatjies- en Hector-gesin.

Die stories wat op ’n plaas­like Facebook-groep versprei is, is dat ’n onbekende persoon in die minibus opgelaai is en dat daar toe ’n geveg uitgebreek het en iemand is met ’n mes gesteek.

AO Jakobus Marthinus van Bredasdorp-polisie het gesê dit kan nie bevestig word nie.

Die families sê net dié wat betrokke was, sou presies weet wat gebeur het.

“Ons weet iemand het op die strand seergekry of siek geraak – ons is nie bewus van die omstandighede nie. Hulle almal was baie goeie vriende en baie lief vir mekaar. My seun moes die minibus ry om by die hospi­taal in Bredasdorp uit te kom – dit is toe die ongeluk gebeur het,” vertel Hector gesin.

Ashley Hector, een van die oorledenes en die bestuurder van die voertuig ten tye van die ongeluk, het met hartkwale gesukkel en het ook ’n pasaan­geër gedra. Daar was ook twee kinders in die ongeluk betrok­ke – albei het oorleef. Bianca se suster, Nicola Maerman (23) het ook die ongeluk oorleef.

“Sy is nog baie emosioneel en ons wil nie te veel uitvra nie,” het Bianca en Nicola se niggie, Rachelle Bantom gesê. Al die gesinne en families getuig van hierdie hegte vriende wat respek vir ander en mekaar gehad het.

“Party was skaam en ander het jy al ’n myl ver hoor aankom. Hulle het mekaar as vriende aangevul. Wat ook al gebeur het, is ’n saak tussen die Here en hulle. Net die wat oorleef het en daar was sal weet wat gebeur het. Dit maak net seer om hierdie goed op sosiale media te hoor en te lees. Sommige mense het nie respek vir ander nie en pas stories aan om by hulle Facebook-blaaie te pas. Hulle hou van sensasie en onwaarhede,” het die gesinne aan Gazette gesê.

Die begrafnisse gaan nie gelyktydig plaasvind nie en van die begrafnisse het die afgelope naweek plaasgevind en die ander sal dié week gebeur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.