Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Swartlander tem die Leo

Sy is jonk, mooi en slim, dis hoe bekende sanger Kevin Leo dikwels sy metgesel Elna Dürr van Malmesbury beskryf.

Die paartjie, wat die afgelope vier jaar in ’n verhouding is, het in 2014 by die Pioneer-tydren ontmoet, ’n jaarlikse kompetisie waar bekende persone en siggestremdes van die Pioneerskool in Worcester saam in die tydren deelneem.

Hulle het ná die geleentheid kontak behou en soos hulle sê, die res is geskiedenis.

Elna het by Pionierskool in Worcester skoolgegaan en daarna sielkunde by Universiteit Stellenbosch gaan studeer. Sy het haar meestersgraad in sielkunde in 2014 ontvang.

Haar ouers, Mari en Poekie Dürr, woon steeds in Malmesbury.

Elna is ’n visuele gestremde 100 m- en 200 m-atleet. Sy is gebore met ’n genetiese visuele gestremdheid genaamd retinitus pigmentosa, ’n genetiese oordraagbare oogsiekte wat beperkte visie veroorsaak weens onderontwikkelde retinas.

Elna is wel nie blind nie, maar het haar studies voltooi met behulp van rekenaarpro­gramme en braille. Sy is tans besig om haar doktorsgraad in navorsingsielkunde ook by die Universiteit Stellenbosch te voltooi.

“Ek kan nog gewone skrif lees, maar maak gebruik van braille omdat dit net soveel vinniger is om te lees en plaas geen stremming op my oë nie,” sê sy.

Sy gebruik ook tegnologiese sagteware genaamd Jaws (’n spraakprogram) wat alles op haar rekenaarskerm aan haar teruglees asook elke knoppie wat sy druk.

“Ek dink dit is wonderlik om aan die bewusmaking van gestremdheid te werk. Ons samelewing is onkundig op baie vlakke as dit by gestremdheid kom,” sê sy oor haar samewerking met Kevin se veldtog om bewusmaking te skep oor die uitdagings wat Elna en baie ander gestremdes, veral blindes en mense met sigprobleme ervaar. Hoofsaaklik hul stryd om werk te kry.

“Al wat ek sien, is ’n pragtige, intelligente vrou. En hoewel sy sukkel met haar oë, kan sy my sien,” het Kevin ná die onlangse Ghoema-toekennings van kykNET in Johannesburg oor Elna se gestremdheid gesê.

Kevin wie se ouer broer geestelik gestremd is, het ook genoem dat hoewel Elna binnekort haar studies sal voltooi, is die werklikheid dat mense bang is om iemand wat nie kan sien nie, in enige posisie aan te stel.

Vir hierdie doel wens hy dat hy meer kan doen om mense soos sy te help.

Elna sê dit is belangrik vir mense om by hierdie veldtog betrokke te raak sodat hulle meer kundig op die gebied kan word.

“Ons kan amper alles doen wat enige ander persoon kan doen,” sê sy.

“Ek voel altyd mense is bang om met ons te praat of om saam met ons te werk en ek skryf dit weereens aan onkunde toe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.