Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Swendelaars teiken twee

Twee inwoners van Botrivier het binne twee weke dreigemente per e-pos ontvang.

“Dis eintlik afpersing,” sê die een inwoner. “Ek het gedink ons het ’n redelik ongewone wagwoord en dit is vir my baie ontstellend dat iemand my wagwoord in die hande gekry het.”

Die persoon vertel sy het e-pos ontvang met die wagwoord in die onderwerplyn.

“Die vuilgoed het gesê dat hy oor al my persoonlike inligting beskik en dat hy dit bekend sal maak aan al my kontakte. Hy het bitcoin as betaling vereis.” Sy het die e-pos geïgnoreer en aan ’n familielid gestuur wat rekenaarkundig is. Hy het voorgestel die wagwoord moet verander word.

Die persoon wat die e-pos gestuur het, het gewaarsku dat hy glad nie deur die polisie opgespoor sal kan word nie, omdat hy die nodige maatreëls in plek gestel het.

Sy wil almal waarsku om versigtig te wees met hul wagwoorde.

Die tweede persoon wat dreigemente ontvang het, is in kennis gestel hy besoek pornografiese webtuistes en ’n kamera het foto’s van hom geneem. “Dit is nie waar nie en ek het my dus nie bekommer nie en die e-pos verwyder.”

Pieter Esterhuizen, eienaar van Benliekor Computers in Caledon, sê “verwyder dit. Die naam van die persoon wat die e-pos stuur, sal vals wees”. Esterhuizen sê die rede waarom hulle bitcoin vra is omdat dit nie nagespoor kan word nie.

“Indien die dreigemente lewensgevaarlik is, moet die polisie in kennis gestel word, maar eers as daar opvolgdreigemente kom.”

Hy sê gewoonlik is dit net ’n phishing e-pos. “Hulle hoop iemand val daarvoor en betaal, maar ongelukkig is daar steeds onskuldige mense wat met hierdie boereverneukery gekul word.”

Esterhuizen sê om jouself te beskerm, moet Windows opgedateer bly, tweedens moet jou antivirus- sagteware op datum bly. Hy verduidelik dat swendelaars vir mense e-pos stuur waarin hulle staatmaak op jou goeder trou. “Een van die tegnieke wat hulle die meeste gebruik, vra jy moet dadelik hier kliek, want jou wagwoord is gesteel en as jy dit nie onmiddellik verander nie, is jou wagwoord in gevaar.” Indien die persoon dan op die skakel kliek, het die swendelaar toegang tot sy rekenaar. “As jy daarop kliek, plant hulle sagteware, dis soos ’n poort wat oopgaan na jou rekenaar, verduidelik Esterhuizen.

“Ten einde jouself te beveilig, moet jy nie te veel van jou besonderhede op Facebook, Twitter en Instagram bekend maak nie,” sê Jan-Ben Esterhuizen, hoof-IT-tegnikus by Benliekor. “Weerhou liewer selfoonnommers en jou e-posadres.

Hy raai aan dat gebruikers Avira, ’n Duits gebaseerde antiviruspakket, gebruik ten einde hulself te beveilig, en wagwoorde skep van minstens agt karakters, met ’n nommer en ’n simbool daarin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.