Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Sy was nie ’n kantlyn-mens’

’n Grusame trompop-botsing naby Botrivier het Vrydag die lewe van voormalige Springbokrugyspeler Gysie Pienaar se dogter, René O’ Ehley (38), geëis.

Dié gru-ongeluk het Vrydag omstreeks 16:00 op die N2 by Rooiheu­wel, net voor die Botrivier-afrit, gebeur.

Charles Marthinus, ambulanshoof van Caledon-ambulansdienste het by na­vraag bevestig daar was vier voertuie in die botsing betrokke – twee vragmotors, ’n bakkie en die VW Polo waarin O’Ehley gereis het.

“O’Ehley is op slag dood. Die vragmotorbestuurders en een insittende in die bakkie het ligte beserings opgedoen. Hulle is na Caledon-hospitaal vervoer,” het Marthinus bevestig.

Edmund O’Ehley (41) het aan Netwerk 24 gesê sy vrou René was op pad terug van Stellenbosch na Bredasdorp toe die botsing plaasgevind het.

O’Ehley, sy seun (8) en dogter Kayla (10) was Saterdag op De Doorns waar Edmund jr. krieket gespeel het. “Ek dink dit vat darem ’n bietjie van die hartseer weg en hou net die gedagtes op ’n ander plek besig,” het hy gesê.

Hy sê daar is baie ondersteuning – sy kinders is Saterdag omring deur maats. “Ons is almal baie, baie hartseer. Die kinders is mos maar nog klein, so ek dink nie hulle verstaan heeltemal nie.”

Die egpaar was Desember 12 jaar getroud berig Netwerk24.

René was ’n onderwyser by Laerskool Bredasdorp en het in Junie verlede jaar ophou skool gee om op haar gesin te fokus en O’Ehley met administrasie­werk te help.

Volgens Netwerk24 is O’Ehley ’n finansiële adviseur by die beleggings­groep PSG.

Marlene Fraser, waarnemende skoolhoof van Laerskool Bredasdorp sê René was van Januarie 2015 tot Junie 2018 ’n leerkrag by dié skool. Daarna was sy betrokke as sportafrigter en aflospersoneellid.

“René was ’n warm, baie liefdevolle en diep mens. Met haar breë glimlag en blink oë het sy baie harte aangeraak en lig in soveel mense se lewe gebring. Sy het ’n onblusbare liefde en energie vir die lewe gehad en haar energie was aansteeklik.” Fraser vertel René het met haar besonderse humorsin gesorg vir vreugde en baie snaakse oomblikke vir die personeel, maar sy het nie die dieper dinge in die lewe misgekyk nie en was ’n bron van ondersteuning vir baie mense.

“Sy het ’n besonderse liefde vir kinders gehad en kon altyd plat op haar knieë tussen hulle in haar klas gevind word. Wanneer sy swem afgerig het, was sy nie op die kant nie, maar saam met die kinders in die water. Wanneer sy netbal afgerig het, het sy saamge­speel. Dit is net wie sy was. Sy was nie ’n kantlyn-mens nie.”

Fraser sê hulle sal haar beslis nie vergeet nie. “Sy het ’n onuitwisbare indruk gemaak op Laerskool Bredasdorp se personeel, leerders en ouers.”

Die skool het hul simpatie betuig met Edmund, Kayla, Edmund jr. en die Pienaar- en O’Ehley-familie.

Letty-Ann Möller, radio-omroeper by Overberg Radio, het René beskryf as ’n dinamiese vrou wat voor gevat het by die vrouediens by die NG Kerk in Bredasdorp.

Facebook-inskrywings vertel ook die storie van ’n vrou wat daardie ekstra myl gestap het om leerders te laat tuis voel. Op haar Facebook-blad verwys René na haar eie gesin as haar alles.

. Begrafnisreëlings is teen druktyd nog nie bekend gemaak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.