Op 78 koes Martha van der Merwe van Aandskemering-tehuis vir bejaardes in Malmesbury vir min dinge buiten die uitgerekte inperkings, mense wat haar ’n “lekker daggie” toewens, en skindersessies. Verder sien sy en haar twee hande vir enigiets kans.
“Toe die inperkings verlede jaar effens lig, het ek na die wolwinkel hier naby gestap,” vertel sy. “Daar het die eienares, Elana de Villiers, die boekie oor bidbere my in die hand geprop.
“Die woord ‘opdrag’ wat bo-aan die boekie staan, het eintlik na my oë ‘opgespring’. Maar as ek begin bidbere brei, wat máák ek met hulle?”
Martha het kort hierna deur die siekeboeg gestap en toe wéét sy: “Ek sal bidbere vir die siekes brei.”
Hierdie raakvatter het eers bere vir die Bo-siekeboeg-inwoners en die personeellede gebrei, want “hulle werk so hard om almal te versorg”. Daarna het sy beertjies vir haar bure in die middelgang gebrei, en omdat inperkings destyds weer strenger geraak het, het elke inwoner en personeellid van die Onder-siekeboeg ook ’n bidbeer gekry.
“Maar die personeel wat in skofte werk, bemoeilik my boekhouery! Weet jy hoe baie dit vir my beteken om dié bere te brei? Dit hou my gedagtes besig.”
Sedert Augustus tot middel Desember het Martha 100 bere gebrei. “Die 100ste was ’n Blou Bul-beer – vir my seun.”
Martha het altesaam 130 bere teen middel Februarie gebrei.
Sy sê sy dink al breiende gereeld aan haar grootwordjare op ’n plaas in Garies; haar skooljare op Garies tot graad 10; daarna matriek in ’n Paarlse skool. “Toe ek in Adderleystraat se Barclays Bank gewerk het, het my kêrel (later my man) my na die spoggerige Mount Nelson-hotel geneem. Ek is nétjies gemaak, hoor – hare en naels – en die hakke hóóg.”
Senuweeagtig oor die vreemde woorde op die spyskaart, het sy haar vinger iewers gedruk en gesê “daai wil ek eet!” Die kelner het stywelip aangedui sy wys watter liedjie die orkes speel.
Martha kan lekker lag oor haarself en oor die lewe. “Al druk dinge soms; al ‘haak ek vas’,” soos sy speels na haar hakkelry verwys. “Ek het my pa se Beukes-humor en lewenskragtigheid geërf; altyd lewenswys en positief.”
Getroud met haar Porterville-boer, het die gemengde boerdery en drie kinders hulle besig gehou. “Dan sê Christiaan ek werk so hard saam met hom, hy betaal graag vir my vakansies.”
Martha en haar bank-vriendin het jaarliks binne- of buitelands getoer – Keuken se tulpe, Noorweë en Brittanje. Sy onthou hoe al die laste van haar skouers afgeval het sodra sy haar voete op ’n buitelandse lughawe neersit. “Hierdie herinneringe is nou ligpunte in my lewe.”
Toe haar man dertig jaar gelede aan sy hart dood is, moes die vakansies stop, want die uitgebreide boerdery was 10 jaar lank haar werk. “Ek het darem ’n goeie span werkers gehad. Ek het later die plaas verkoop en in Yzerfontein gaan woon.”
Staan Martha se vingers dalk vol knobbels ná 130 bere? “Jy moet onthou, die vroutjie wat die bidbere begin het, An Roets, werk die gesiggies op.”
Dan vou sy die mooiste klein handjies oop. “Hierdie hande makeer niks. Dis beter as hulle besig bly. Hulle moet net stil wees wanneer ek Bybel lees en bid.”