Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Terug ná uitdagende rit

Baie is gepraat en baie is beplan, maar uiteindelik het Paasnaweek 2019 aangebreek en sewe voertuie met 14 Swartland-4x4-klublede is oor die grens Namibië toe.

Die eerste kampopslaan was by Norotshama langs die Oranjerivier. Tot groot vermaak van die manne was André de Villiers en Petri de Wet van Safari 4x4 met hul Amaroks ook by die kampplek.

Die volgende dag het die lede die grondpad aangepak, rivierlangs tot by Rosh Pinah en vandaar na Klein Aus Vista vir die volgende twee dae. Lede kon self beplan waarheen hulle op hul afdag wil ry met party wat Luderitz verken het en ander wat ’n rustige dag by die Garub-watergat deurgebring het om die wilde perde te sien drink.

Paasmaandag het hulle die grondpad tot by Helmeringhausen geneem vir tee en appelkoek; daarvandaan na Duwisib Kasteel en namiddag tot by Sossus Oasis-kampterrein waar lede twee nagte oorgestaan het. Toerlede wat vroeg opgestaan het, het Duin 45 gaan klim voordat die hitte kom aanklop het. Sossusvlei is geleë in die Namib-Naukluft Park. Dooievlei maak deel uit van Sossusvlei en is slegs bereikbaar met ’n 4x4 of te voet.

Dit is voorwaar ’n dooie vlei met dooie bome en stompe wat ideaal is vir foto’s neem. Die vloer van die vlei is vol krake en lyk soos olifantvel. Lang pendorings lê oral rond en kan dwarsdeur ’n skoen steek. Die grys mistigheid wat oor die vlei hang, stuur ’n rilling langs jou ruggraat af.

Sesriem Canyon is ook besoek en het sy naam gekry deurdat voorgeslagte ses osrieme aanmekaar moes bind om water te skep.

Dit was weer oppaktyd en die ongenadigste grondpad het voorgelê. ’n Ligpunt was die kuiertjie by McGregor’s Bakery in Solitaire vir die beroemde appeltert van wyle Meneer Moose en varsgebakte Brötchen (Duitse broodrolletjies). Solitaire se werkswinkel ken van sweis en alles wat op die rowwe grondpad losgeskud en afgebreek het, is herstel. Die volgende stop was Alte Brucke-oord in Swakopmund.

Hier was baie dinge om te doen en te beleef, maar te min tyd. Flaminke kyk en soutpanne besoek by Walvisbaai, galjoen vang op Hentiesbaai, kameelritte, Tommy’s Living Desert Tours, sauerkraut en knockwurst eet. ’n Besoek aan die maanlandskap en die oudste lewende plant, die Welwitschia, was ook op die lys. Die hoogtepunt van ons besoek was om te kyk wie die legendariese Duin 7, wat menige jong soldaat geknak het, kon uitklim.

Só kom alle goeie dinge ook tot ’n einde en alle paaie lei weer huis toe. Die laaste kampstop voor van die lede moes wegbreek van die groep om terug te ry huis toe, was Urbancamp in Windhoek. Die groep het die toer afgesluit met ’n lang glas Duitse bier by Joe’s Beer Garden.

Lede wat langer kon toer het oorgebly by die indrukwekkende Kokerboomwoud naby Keetmanshoop, en die Ai Ais-warmwaterbron.

Die groep het hul dank en eer aan die Liewe Vader uitgespreek wat die lede op die lang pad bewaar en almal veilig teruggebring het huis toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.