Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrugtewerkers vra meer

Werkers by Montagu Dried Fruit and Nuts Factory (Montagu) in Montagu het sedert verlede Maandag 8 Julie by die onderneming in Kohlerstraat oor onder meer beter salarisse en lone betoog.

“Ons staak oor ongelukkigheid en onregverdigheid. Ons werk vir jare hier – sowat 16 jaar – maar die loon wat ons kry, is min,” sê Bradley Hoffman, ’n toesighouer by Montagu.

“Baie van die mense wat hier werk is enkelouers en hul lewenskoste het erg opgegaan,” verduidelik hy.

“Ons kan nie meer so lewe nie – ons leef letterlik van die hand na die mond.”

Hoffman sê hulle wil net hê die bestuur moet regverdig wees en beter na hulle omsien.

“Ek weet nie of hulle verstaan nie, maar om met omtrent R800 ’n week uit te kom – en jy het kinders en ’n huis – [is moeilik]. Dis amper asof hulle nie begrip het vir waardeur ons gaan nie. Ons soek net R1 000 skoon uitkry ná aftrekkings,” voeg hy by.

Volgens Lorna Pieterse, wat al vir 28 jaar ’n algemene werker by Montagu is, kry sy R1 030 per week, maar ná aftrekkings kry sy nog nie ’n R1 000 uit nie.

“Ons het gehelp om die plek op te bou. In die begin was daar geen belde met die masjiene nie. Ons moes die vrugte van die net af op die stellasie in die bokse gepak het. So het die onderneming gegroei tot die sukses waar dit nou is,” sê Pieterse.

Raadslid Samuel du Plessis van Icosa sê hy staan die werkers by om seker te maak dat arm mense gehoor en regverdig behandel word.

“Ek is nou al van Maandag af by die werkers en my hoofrol is om seker te maak alles verloop vreedsaam. Ons wil ook seker maak mense kan hul regte uitoefen,” sê Du Plessis.

Lourens van Rensburg, die uitvoerende hoof van Montagu, het aan Gazette bevestig dat die werknemers wat lid is van die vakbond Solidariteit, ’n wettige staking hou.

Volgens Van Rensburg het Montagu gesprekke met verteenwoordigers van die werkers gevoer. “Montagu se bestuur het deur die proses gewerk soos deur die arbeidswet vereis, en ons het die saak ook vir arbitrasie na die CCMA verwys waar ’n sertifikaat vir die wettige staking uitgereik is,” sê hy.

Van Rensburg sê die vakbondlede eis ’n verhoging van 25%.

“Geen addisionele voordele is deel van die huidige onderhandelings nie. Ons bly oop vir enige verdere onderhandeling,” sê Van Rensburg.

Die staking was teen druktyd nog aan die gang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.