Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Weldoener in ongeluk dood

’n Geliefde en alombekende inwoner van Malmesbury – wat haar lewe toegewy het om ’n verskil in haar ge­meenskap te maak – het tragies op Oujaarsdag (31 Desember) in ’n motor­ongeluk omgekom.

Denise Amerika, wat in Mei 45 jaar oud sou word, was op pad terug van Greyton waar sy haar oudste seun Zhaunder (22) vir werkverpligtinge afgelaai het toe sy op ’n plaaspad naby Genadedal verongeluk het. Twee van haar seuns was saam met haar in die motor, maar het geen beserings opgedoen nie.

Volgens Denise se man, Alec, is Denise op slag dood en was die seuns erg getraumatiseerd omdat hulle alleen op die toneel was.

Denise was die bestuurder by Usapho-Swartland, ’n organi­sasie sonder winsbejag wat hom toespits om omvattende ondersteuning en terapeutiese dienste aan gesinne in nood in die Swartland te lewer. Denise het ook ’n passie gehad om na haweloses uit te reik. Swart­land Gazette het in Desember berig oor hoe Denise en haar span ’n hawelose man gehelp het om permanente verblyf by Goue Aar tehuis vir bejaardes te kry (“Usapho help ander”, 10 Desember 2019).

Haar kollega, Jennifer Blom, het gesê Denise was meer as net ’n kollega. Sy het haar as ’n ouer suster en tweede ma vir haar eie seuntjie beskou.

“Haar hele menswees word in Spreuke 31 beskryf. Sy het ’n groot warm hart vir mense gehad. Sy was dankbaar vir alles; selfs die geringste ding soos ’n koffie by Bean Tree het haar kinderlik opgewonde gemaak,” het Jennifer gesê.

Volgens haar was Denise ’n onbaatsugtige mens met ’n veggees vir die regte dinge. “Sy het groot drome gehad wat so baie mense positief sou beïnvloed, saam het ons twee gedroom en aan dit te begin werk. Jy kon nie anders as om in haar lewensvreugde te deel nie. Ons was soos peanutbutter en jam. Denise was baie lief vir die Here en dis iets wat ons twee nóg nader aan mekaar gebring het. Sy het geloof soos ’n mosterdsaad gehad en was nooit beterwe­terig nie. Sy wou so graag ’n erf bekom waar daar later ’n sentrum kon opgerig word om terapeutiese dienste oor die breë spektrum te lewer. Sy was iemand wat oneerlike mis­drywe nie kon verdra nie. By haar was dit jy doen iets vol­uit, nie vir jou eie gewin nie en nie om jouself te bevoordeel nie. Iemand so opreg en so vol passie en liefde se legacy verdien om voort te bestaan. Ek gaan haar baie mis.”

Alec, met wie Denise die laaste 21 jaar getroud was, het sy vrou beskryf as passie­vol, energiek en kreatief. Die egpaar het saam ses seuns gehad.

“Daar is ’n merk van Denise in die hele huis en in haar mosaïek waarvoor sy so lief was. As die enigste vrou in die huis moes sy maar haar stempel afdruk en sy het dit baie duidelik gedoen. Sy was ’n merkwaardige vrou wat baie toegewyd was aan my as eggenoot en ons seuns. Dit wat sy gedoen het, het sy met passie gedoen. Die impak wat haar lewe gehad het, kon ’n mens sien met hoe die hele gemeenskap saamtrek en ons ondersteun.”

Denise laat buiten Alec en Zhaunder ook haar seuns Aden, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Swartland, Alex wat môre (Woensdag) sy hoër­skoolloopbaan by Hoërskool Swartland begin, Kaleb (graad 6, Laerskool Swartland), Alexander jr. (graad 2, Laer­skool Swartland) en Joshua (graad R, Swartland Preprimêr) asook drie broers en vier susters agter. Sy is Saterdag 11 Januarie uit die VGK Riverlands begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.