Die Wielie Walie-speelskool het sy heel eerste veldwedloop aangebied.
Dié heerlike dag was Saterdag 26 Januarie by Raka-wyne aangebied.
Die vure het al gebrand toe die eerste deelnemers vroegdag opgedaag het. Die wegspring was 08:00.
Altesaam 171 deelnemers het ingeskryf om aan die 6 km- of 10 km-wedloop deel te neem. Dit het die deelnemers op ’n sirkelroete deur die wingerd en fynbos geneem, terug tot waar hulle begin het en waar die reuk van braaiwors nou in die lug gehang het.
Die algehele wenner van die 10 km-wedloop was Francois Neethling wat die roete onder 50 minute kafgedraf het.
Die wenner van die vroue was Hannah Baleta.
Die organiseerders voel geseënd om soveel ondersteuning van die plaaslike gemeenskap en ook atlete van Worcester, Swellendam en “oor die berg” te kon kry.
“Hulle was die sterre wat die dag moontlik gemaak het. Hier en daar natgeswete sterre, maar almal in ’n wonderlike gees van vrolikheid, pret en welwillendheid en ons sê dankie vir hulle ondersteuning,” sê Elna Dryer, een van die organiseerders.
. Wielie Walie-speelskool wil graag die volgende borge bedank: PSG Wealth Swellendam, Overberg Agri, Stanford Spar, Agrisell, Raka-wyne, Manor House-restaurant, Klein Rivier kaas, Blue Gum Country Estate, 35 On Basil Guesthouse, Dassiesfontein-padstal, Goedvertrou-gastehuis en Fijn Coffee.