Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wind laat motors bots

’n Gru-ongeluk net buite Caledon op die N2 het Woensdag die lewe van twee motoriste geëis.

Drie voertuie was betrokke in die botsing wat net verby die afrit na Greyton in die rigting van Caledon op die draai gebeur het.

“Dit was ’n moeilike dag vir ons manne,” het Charles Marthinus, ambulanshoof van Caledon-ambulansdienste, by navraag gesê. “Twee mense het gesterf – een op die toneel en die ander in die hospitaal.”

Volgens Marthinus het die derde pasiënt geringe beserings opgedoen.

“Volgens die inligting wat ek ontvang het was dit ’n botsing reg van voor.”

Die dood van Amanda Coetzee het skokgolwe in Caledon veroorsaak. Sy het vir ’n paar jaar by Absa Caledon gewerk voordat sy George toe getrek het.

Amanda het in Botrivier grootgeword en in Worcester skoolgegaan, vertel haar hartsvriendin Myrna Pretorius.

Myrna sê Amanda was langer as 30 jaar ’n hegte vriendin en het haar die oggend van 7 Augustus met haar vyftigste verjaardag kom verras. “Sy en haar bure se seun Ivan het van George af deurgekom.” Volgens Myrna het Amanda beplan om haar pa op Botrivier te verras en die aand daar oor te slaap en dan vir die naweek by haar kleinkinders en kinders te gaan kuier.

“Ons het so lekker gekuier dié oggend.... min het ek geweet dat dit die aakligste verjaarsdag ooit gaan wees en dat sy my eintlik vir ewig kom groet het; dat ek haar nooit weer sal sien nie,” vertel ’n gebroke Myrna.

“Sy het so met haar twee kleinkinders gespog en ook getuig hoe die Here haar van kanker genees het.”

Myrna het omstreeks 14:00 die tyding van Ivan ontvang dat haar vriendin in ’n grusame ongeluk net buite Caledon dood is. “My hele lewe het tot stilstand gekom,” sê sy.

Ivan het Myrna later weer gebel en vertel dat hy enkele sekondes voor die ongeluk op sy foon was en toe hy opkyk het Amanda vir hom gekyk, maar dit was te laat om enigiets te sê.

Japie Niemand en sy dogter, inwoners van Villiersdorp, was ook in die ongeluk betrokke. Japie is op slag dood en sy dogter is na die Caledon-hospitaal. Lt.-kol. Chrisna Auret, stasiebevelvoerder van Villiersdorp-polisie, het by navraag bevestig die meisie is intussen uit die hospitaal ontslaan en is tuis.

Amanda word oorleef deur haar pa, Hannes Coetzee, twee seuns, Juan en Roan van Schalkwyk, twee kleinkinders, haar suster Christelle en haar verloofde, Marius Steenkamp.

Verdere besonderhede oor die oorsaak van die botsing is nog nie bekend gemaak nie, maar die wind het glo ’n groot rol gespeel.•Amanda se begrafnis is Vrydag 16:00 uit die NG kerk in Botrivier. Japie Niemand se begrafnis is Vrydag 14:00 by die Aanbiddingsentrum in die Hoofstraat in Villiersdorp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.