Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wind waai gelukkig ‘Vensters’ nie weg

Nie eens ’n stormsterkwind wat verhoë aan flarde geruk het kon ’n demper plaas op die gees by Vensters 2019 nie – die jaarlikse straatteater-geleentheid wat Vrydagaand (1 Februarie) by die Universiteit Stellenbosch aangebied is.

Hoewel sommige vertonings by tye gestaak moes word om windskade te herstel, het die eerstejaarstudente steeds daarin geslaag om die verbeel­ding van die duisende besoekers aan te gryp met hul energieke buitelug dans- en musiekvertonings op die verskillende verhoë op kampus.

Te oordeel aan die voete wat op die maat van die polsende musiek getik het en toeskouers wat sommer saam begin dans het, was Vensters 2019 ’n reusesukses.

“Ek dink die eerstejaars het net soveel pret as die toeskouers gehad,” meen Kelly Shepherd, kommunikasie­beampte van Connect, wat die Vensters-geleentheid gereël het.

Ten spyte van die uitdagings is hulle hoog in hul skik, sê sy. “Die orkes wat deur die strate gemarsjeer het, het ’n opwindende en vreugdevolle atmosfeer geskep. Besoekers het ook die koswandellaan baie geniet. Bome en stalletjies was in liggies getooi met heerlike kosgeure én die reusagtige vensters-letters was die perfekte agtergrond vir honderde selfies.”

Verskeie kunstenaars soos vuurspoegers, goëlaars en die Maties-dansvereniging het tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Vensters-vennote Hippokrates, ’n koshuis op die Tygerberg-kampus, en die Silene private studenteorganisasie, is as die wenner van Vensters 2019 aangewys.

Cailin Perrie, Connect se voorsitter, het Vensters as “een van die mees ongelooflike ervarings om van deel te wees” beskryf.

“Dit maak ’n mens nederig om te sien hoe bereidwillig studente, organisasies, fakulteitslede en gesinne is om hul tyd en energie aan iets te wy wat tot die verbetering van iemand anders se lewe sal lei.”

Volgens haar is Connect se doel om studente meer bewus te maak van die sosiale impak wat hulle deur hul deelname aan studente-aktiwiteite op kampus kan hê. “Connect wil die US-kampus meer inklusief en toeganklik vir almal maak. Deur die sosiale impak-projekte aan Vensters te koppel, word studente meer bewus van hul omgewing en so word ’n gemeenskapsgegronde vennootskap gevestig,” het Perrie gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.