Die aksynsverhoging wat deur die nasionale tesourie ingestel is, sal heelwat wynondernemings ’n finale nekslag toedien en die ekonomiese herstel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf verder kniehalter.
Tito Mboweni, die minister van finansies, het onlangs tydens die nasionale begrotingsrede ’n aksynsverhoging van 8% aangekondig op alle wyn, vonkelwyn en brandewyn.
“Hierdie volg op die rug van ’n 16%- loon- én ’n 15%-elektrisiteitsverhoging wat op plaasvlak geabsorbeer word. Ons is uiters teleurgesteld dat die regering weer eens nie gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf nie,” sê Rico Basson, die bestuurshoof by Vinpro.
“Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met die tesourie die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks (VPI) gelig word nie.
“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf tans is, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en finansiële verligting en ondersteuning nodig. Die hoër as verwagte aksynsverhoging doen afbreuk hieraan en kan heelwat sakeondernemings wat reeds op hul knieë is, ’n finale nekslag toedien. Dit sal net tot die reeds groot aantal werksverliese bydra én die sosiaal-maatskaplike uitdagings in hierdie gemeenskappe vererger.”
Die werklikheid is dat die aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na wyndruifprodusente. Van ’n gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop word, het die regering voor die loon-, elektrisiteits- en aksynsverhogings R10,04 uit aksynsbelasting en BTW verdien, teenoor die wyndruifprodusent wat ’n netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien het.