Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wyndruifoes lyk belowend

Wynmakers in die Swartland is positief oor die huidige wyndruifoes en sê die gehalte lyk sover goed.

Dit is hoofsaaklik te danke aan ongewone goeie reën in Oktober en Desember verlede jaar wat volgens wynmakers veral gehelp het met die droëlandwingerde.

Meeste wynkelders in die streek het middel tot laat Januarie die eerste druiwe begin inneem en verwag om teen die einde van die maand klaar gepars te wees.

Volgens Werner Engelbrecht, uitvoerende hoof van Riebeek Valley Wine Co, het hulle in die week van 6 Januarie druiwe vir vonkelwyn begin inneem.

“Dit het aanvanklik gelyk of die oes ’n week tot 10 dae vroeër kan wees, maar die effe koeler weer later in Januarie het die rypwordingsproses effe teruggehou.”

Hy sê die druiwe kom mooi egalig in met rooi kultivars wat eers die afgelope week in groot volumes ontvang is. “Ons is reeds in ons piekperiode en ongeveer 50% van ons beraamde 2020-oes is reeds ontvang. Gehal­tegewys lyk die oes baie goed. Die reën in Oktober en Desem­ber het veral die droë­land­wingerde baie gehelp. Die hitte vroeg in Januarie het ook nie te veel skade veroorsaak nie.”

Engelbrecht sê te oordeel aan verlede jaar se oes lewer die wit kultivars baie dieselfde volume as in 2019.

“Die oesgrootte verskil redelik baie tussen subgebiede in die Swartland.

“Ons begin nou eers regtig rooi kultivars ontvang, maar die neiging lyk of die volumes groter sal wees as 2019. Ons rooidruifproduksie was baie laag in 2019 weens die vooraf­gaande twee jaar se droogte.”

Hy sê faktore wat met hierdie oes ’n rol gespeel het was die gemiddelde tot effe ondergemid­delde winterreënval, maar goeie reëns gedurende die groei­sei­soen wat oesgroottes positief beïnvloed het.

“Besproeide wingerde het ook vanjaar meer voldoende toegang tot besproeiingswater gehad. Die oes is oor die algemeen beter weens die faktore vanjaar.”

Corrien Basson, wynmaker by Leeuwenkuil-Swartland, sê hulle het op 22 Januarie begin pars en is dit eens dat die gehalte goed lyk.

“Ons is nou hard besig om wit druiwe in te bring. Die pinotage sal seker teen hierdie week reg wees om in te kom.

“Die gehalte sover is goed en die koel somer en lekker reën­buie wat ons oor Desember gekry het, sal hopelik die hele oes deur vir ons goeie gehalte verseker.”

Volgens die wynmaker, Nadia Sadie, wat saam met haar man David bekend is vir ’n verskei­denheid wyne uit hul eie wyn­reeks, David & Nadia sê hulle is ook volstoom aan die pars en hoop om teen volgende week die laaste druiwe in te neem.

Sy sê ook hulle oes lyk “baie belowend” in vergelyking met verlede jaar waar produksie heelwat laer was.

“Produksie is op en die sure is mooi.”

Sy meen faktore wat met hier­die oes ’n rol gespeel het, was dat daar nie so baie wind met die blomtyd was soos in die vorige seisoen nie asook matige Desember- en Januarie-tempera­ture en meer reën.

Hulle het ook meer organiese materiaal (kompos, kaf) in die wingerd gebruik.

Vir Chris Mullineux van Mullineux & Leeu Family Wines is die gemiddelde opbrengste op in vergelyking met 2016, 2017, 2018 en 2019.

“Die oes lyk so ver goed. Wat interessant is, is dat die druiwe lyk of dit ryp is teen ’n laer suikervlak.”

Mullineux is so twee derdes in sy wyndruifoes in en beoog om binne die volgende 10 dae klaar te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.