Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Kinderslagoffers kla hele SA aan

Vir bykans ’n week spook die beeld al by my . . . Die fyn blonde meisietjie met die hartseer blou oë.

Haar naam was Poppie. Wás. Nie ís nie. Want Poppie is dood. Vermoor. Doodgeskop, sê die nuus, deur iemand wat veronderstel was om haar te beskerm.

Daar borrel ’n ongekende woede in my teenoor ’n man wat ek van geen Adamskant ken nie. Teenoor ’n stelsel wat veronderstel was om ’n kosbare jong lewe te beskerm, maar haar skreiend in die steek gelaat het.

Om ’n weerlose kind in die hande te laat van iemand wat, kyk mens na sy Facebook-profiel, geen stabiele lewe vir haar kon bied nie, laat mense met meer vrae as antwoorde. Waar was die wagte op die mure wat haar stem moes wees toe sy nie een gehad het nie? Die gevaarligte was tog van vroeg af al daar!

Poppie se storie is een van duisende in ’n land wat, so blyk dit, ’n broeiplek is vir kinderverkragters en -moorde-naars. Vir pedofiele wat teer op kinders wat weens hul omstandighede weerloos is. Kinders uit gebroke, arm huise.

Waar is dié kinders se ma’s? Vir nege maande het jy dié mensie binne jou gedra. Het jy tóé al niks vir die lewetjie gevoel nie? Asem van jou asem. Bloed van jou bloed. Wanneer het jy besluit jy gee nie meer om nie? Wat op aarde kon dié klein mensie verkeerd gedoen het om dit te veroorsaak?

Die antwoord op die laaste vraag is eenvoudig: niks!

Niks wat ’n kind kan doen kan mishandeling, misbruik, moord regverdig nie.

’n Kind is die kosbaarste geskenk moontlik. Dis ’n lewe aan jou toevertrou. ’n Lewe wat jy moet koester en veronderstel is om met jou eie te beskerm. Selfs diere veg tot die dood vir hul kleintjies. Wat het só verkeerd gegaan in ons land en wêreld dat al meer ouers nie meer ’n snars vir hul kinders en hul veiligheid omgee nie?

Hoe kan ouers hul kinders die strate instuur om te bedel? Om voor winkels te gaan staan met ’n flenter papier om ’n ouer, wat die kind sélf nie eens weet waar hy hom bevind nie, se “dienste” te verkwansel.

Sonder skoene. Sonder iets te drink in die warm son. Sonder die sekerheid dat jou kind veilig is waar hy en sy sussies staan.

Dít in ’n area waar die een na die ander kindermoord al opslae gewek het. Waar daar tans drie sake van kinderverkragting ondersoek word.

Poppie, net soos soveel ander jong slagoffertjies, behoort Suid-Afrika, al sy “stelsels” en elke inwoner aan te kla.

Die beskerming van ’n kind is ’n plig. Nie ’n keuse nie. Dis ons almal se plig, of dit jou eie kind is of nie.

Poppie, Montagu se baba Antonique Plaatjies (vermoor deur haar eie pa) en baba Atnick Persent (dood aan die hand van sy stiefpa) en vele ander se gewelddadige dood sypel jou wese binne soos ’n dodelike virus. Dit kom lê in jou waar dit bly broei en borrel soos ’n sweer wat nooit weer sal genees nie.

Ons kinderslagoffers laat ons met ’n leegheid, ’n bitter smaak in die mond, ’n diep seer waarvoor daar geen genesing is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.