Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Ondersteun Huis Le Roux se basaar en snoekbraai

Watter beter manier om die lente in te lui as ’n bedrywige basaar met, as kersie op die koek, ’n heerlike snoekbraai?

Dít is presies waarna Valleiers kan uitsien wanneer Huis Le Roux op 5 September sy basaar op die tehuis se perseel hou.

Soos met enige basaar wat sy sout werd is, sal besoekers hulle kan verlustig in ’n wye verskeidenheid items met tafels wat beloof om te kreun onder onder meer gebak en heerlike eetgoed.

Die basaar is die ideale plek om ’n geskenkie te koop vir iemand spesiaal. Onder die items wat te koop sal wees tel vetplantjies – boonop in houertjies wat die inwoners van die tehuis gemaak het – sowel as krale, wat ook deur vernuftige inwoners gemaak is.

Vir die kleingoed sal daar meer as genoeg plesierigheid wees om hulle onder Ma en Pa se voete uit te hou. Vanjaar sal daar vir die eerste keer ’n springkasteel wees terwyl ander basaargunstelinge soos skyfskiet, gesigverf en natuurlik ’n lekkergoedtafel, ook daar sal wees.

Die snoekbraai is een van die dinge op die basaarspyskaart wat Valleiers beslis nie moet misloop nie. Kaartjies is vooraf teen R40 by Huis Le Roux en Absa se Robertson-tak beskikbaar en sluit heerlik gebraaide snoek, patat, varsgebakte brood met korrelkonfyt en koringslaai in. Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

Die basaar is ten bate van Huis Le Roux en is die tehuis se enigste geldinsamelingsprojek dié jaar. Enigeen wat die basaar op enige wyse wil steun, of ’n donasie wil maak, kan die tehuis by 023 626 3163 bel. Navrae kan ook aan dié nommer gerig word

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.